Moord op steroïedkoning: Bomdreigement ontwrig saak

Die landdroshof in Kaapstad (Foto: Argief)

ʼn Bomdreigement het Dinsdagoggend die borgtogaansoek ontwrig van drie vermeende lede van die Kaapse onderwêreld wat tereg staan vir die aanklag van moord op Brian Wainstein, die sogenaamde steroïedekoning.

Dié hofverrigtinge in die landdroshof in Kaapstad is kort na 10:00 summier beëindig en die hof is ontruim nadat dié bomdreigement ontvang is.

Die drie beskuldigdes, Mark Lifman, Jerome “Donkie” Booysen en William “Red” Stevens verskyn op aanklag van moord, geldwassery en sameswering om ʼn moord te pleeg.

Lifman, wat glo bande het met die Kaapse onderwêreld, Booysen, vermeende leier van die Sexy Boys-bende, en Stevens, vermeende leier van die 27’s-bende, is al drie na bewering prominente figure in die onderwêreld.

Wainstein is in Augustus 2017 in sy bed in sy huis in Constantia doodgeskiet waar hy langs sy vrou en kind gelê en slaap het.

Drie mans is vroeër vanjaar in die saak gevonnis. Hulle is almal lede van die 27’s-bende.

Bronne het voorheen beweer dat Wainstein die verkeerde kant “gekies” het en om dié rede “uitgehaal” is.

Ten tyde van sy moord het Wainstein ook sy uitlewering aan die VSA teengestaan. Hy is daar gesoek vir dwelmverwante aanklagte en geldwassery.

Soos vroeër berig is Wainstein ook deur Interpol gesoek nadat hy glo onwettige steroïede aan sportsterre wêreldwyd verskaf het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.