Moord op steroïedkoning: Drie dán weer in hof

Die landdroshof in Kaapstad (Foto: Argief)

Die drie mans wat teregstaan vir die moord op Brian Wainstein, die sogenaamde steroïedkoning, het Dinsdagmiddag weer in die beskuldigdebank gestaan nadat ʼn bomdreigement die hofverrigtinge die oggend ontwrig het.

Die drie beskuldigdes, Mark Lifman, Jerome “Donkie” Booysen en William “Red” Stevens, het in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van moord, geldwassery en sameswering om ʼn moord te pleeg.

Lifman, ʼn omstrede sakeman, Booysen, vermeende leier van die Sexy Boys-bende, en Stevens, vermeende leier van die 27’s-bende, is al drie na bewering prominente figure in die onderwêreld en is Dinsdagoggend deur die Valke in hegtenis geneem.

Die drie is borgtog van R100 000 elk toegestaan en sal na verwagting weer 9 Februarie in die hof verskyn.

Polisieminister Bheki Cele het die drie se inhegtenisneming verwelkom. Hulle is aangekeer tydens ʼn voortdurende ondersoek na afpersing, dwelmhandel, bedrog, korrupsie en geldwassery in die Kaapse onderwêreld.

Cele sê hierdie inhegtenisnemings is ʼn groot oorwinning vir die polisie in hul stryd om georganiseerde misdaad te bekamp.

“Dit is maar net die begin van die polisie se pogings om misdade wat deur lede in die onderwêreld gepleeg word, vas te vat,” sê Cele.

Wainstein is in Augustus 2017 in sy bed in sy huis in Constantia doodgeskiet waar hy langs sy vrou en kind gelê en slaap het.

Drie mans is vroeër vanjaar in die saak gevonnis. Hulle is almal lede van die 27’s-bende.

Bronne het voorheen beweer dat Wainstein die verkeerde kant “gekies” het en om dié rede “uitgehaal” is.

Ten tyde van sy moord het Wainstein ook sy uitlewering aan die VSA teengestaan. Hy is daar gesoek vir dwelmverwante aanklagte en geldwassery. Wainstein is ook deur Interpol gesoek nadat hy glo onwettige steroïede aan sportsterre wêreldwyd verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.