Moord op uitsmyter glo haarfyn beplan

Beerhouse in Kaapstad. Foto: ANA

Beerhouse in Kaapstad. Foto: ANA

Die drie mans wat van die moord op ʼn uitsmyter van ʼn gewilde kuierplek in Kaapstad aangekla word, het vooraf by ʼn plaaslike restaurant die moord beplan, het die hof Maandag gehoor.

Andy Hess, die staatsaanklaer, het aan die Kaapstad-landdroshof gesê die drie het saam by die Food Inn gesit en gepraat oor “die bloed wat gaan trek”. Ubaid van der Bergh (20), Toufiq Essa (21) en Nasbie Edwards (27) het in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.

Die drie staan tereg op aanklag van moord op Joe Kanyona wat op 20 Junie met ʼn mes voor Beerhouse, in Kaapstad se bekende Langstraat, doodgesteek is.

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Hess het gesê volgesn ʼn ooggetuie het die drie mans die moord haarfyn beplan voordat dit uitgevoer is. Volgens het Edwards Van der Bergh en Essa glo R1 000 gegee om die moord te pleeg. Sy het ook gesê die drie mans het mekaar geken en ten spyte daarvan dat hulle dit ontken, het hulle almal in ʼn stadium in Greystraat in Woodstock gewoon.

Hess het ook gesê die drie behoort aan ʼn plaaslike bende genaamd Young Gifted Bastards. Essa het erken hy is met die bende geaffilieer, terwyl die ander twee die aantyging onderskeidelik ontken en daaroor geswyg het.

Omdat die drie teregstaan op ʼn skedule 6-misdaad, moet hulle buitengewone omstandighede bewys waarom hulle op borgtog vrygelaat moet word. Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Joe Kanyona op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.