Moord op veiligheidswagte sterk veroordeel

Argieffoto

Die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) het Donderdag die onlangse aanslag op veiligheidswagte in verskillende dele oor die hele Suid-Afrika ten sterkste veroordeel.

Manabela Chauke, Psira se uitvoerende hoof, het gesê dat dié organisasie die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ten volle ondersteun in die hoop dat moordenaars wat spesifiek veiligheidswagte teiken, vasgetrek word.

Psira se veroordeling volg ná die koelbloedige moord op twee veiligheidswagte verlede week in Soweto, Gauteng. Grafiese beeldmateriaal van die moord het opskudding veroorsaak toe dié wrede daad op kamera vasgevang en wyd op sosiale media gedeel is.

Die veiligheidswagte aan diens, Eric Ngobese en Boykie Moyo, is op 10 Oktober naby Maponya Mall in Soweto geskiet. Ngobese en Moyo was deel van ʼn span wat gespesialiseerde veiligheidsdienste aan ʼn nasionale finansiële instelling bied en is in hul reaksievoertuig afgemaai.

Chauke het sy ongeloof oor dié moord uitgespreek. “ʼn Aanval op ʼn veiligheidswag is gelykstaande aan ʼn aanslag teen die staat. Psira sal die polisie ondersteun om te verseker dat die oortreders van hierdie barbaarse dade so gou moontlik vasgetrek word.”

Chauke hoop dat die inhegtenisneming van die verdagtes ʼn mate van troos aan die oorledenes se gesinne asook die sekuriteitsbedryf in die algemeen sal bring.

Nog twee veiligheidswagte in hul 20’s is ook verlede Dinsdag by Bushbuckweg in Ntshongweni, KwaZulu-Natal, vir hul wapens geskiet en het in dié aanval gesterf.

Psira doen gevolglik ʼn beroep op Suid-Afrikaners om te help met die polisie se voortgesette ondersoek om die moordenaars van die veiligheidswagte op te spoor. Chauke het verder gevra dat lede van die gemeenskap twee keer dink voordat hulle grafiese video’s op sosiale media versprei uit blote respek vir die familie van die oorledenes.

Chauke het sy medelye uitgespreek teenoor die naasbestaandes van die oorledenes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Vat die wettige wapen-eienaar se wapen weg….dan sal die “probleem” weggaan!!….ala A&C…

Hoe nou....... ·

Sit asb dieselfde energie in om plaasmoordenaars te vervolg!

Anoniem ·

Ek stem saam. Daai familie moet nou sien hoe hulle sterf en so afgemaai word. Di skok is reeds groot omte hoor vanhul dood en dan moet hulle dit sien ook. Wys liewers di video in di hof as bewysstuk. Weereens sonder di familie. Kan my indink watse hel hulle nou moet deurmaak. Ongeag van ras. Mens moet moet meer sensitief wees oor ander se gevoelens. Vir jou isdit reg om di video te wys, maarvir andervoel ni soos jy ni

Jerry ·

Almal is altyd baie vinnig om misdaad te veroordeel, net soos plaasmoorde ook. Dit help egter minder as niks om net te praat en dan kom daar niks daarvan omrede die bevoegdheid om misdaad daadwerklik en voorkomend aan te spreek nie bestaan nie. Die kundiges sit lekker by die huisie by die see en oorsee agv regstellende aksie. Ek glo nie daar is veel meer te se as die feite wat vanself spreek!

Hoe nou....... ·

En nou wil hulle die landsburgers nog ontwapen ook.

Cherokee ·

Die ‘sterk veroordeling’ beteken zero as dit nie vanaf ‘n regter is nie. So gereeld spreek woordvoerders vir groepe sterk veroordelings uit. Die veroordelings vir kriminaliteit behoort deur ‘n regter in ‘n hofsaal uitgespreek word. Slegs dan sal dit ‘n doel dien.

Al ·

Ons landsburgers is siek en sat van ñ gepratery en leë woorde.
Dis tyd dat die Staat beheer kry oor geweldsmisdade.
Kriminele het die oorhand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.