Moord op visekanselier se lyfwag veroordeel

Die Universiteit van Fort Hare. (Argieffoto: SA Gov News/Twitter)

Die moord op die visekanselier van die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap se lyfwag is ten sterkste veroordeel.

Mboneli Vesele, amptelike lyfwag van prof. Sakhela Buhlungu, is Vrydagaand buite Buhlungu se huis in Alice doodgeskiet.

Vesele het die aand by Buhlungu se huis aangekom toe ʼn onbekende voertuig met onbekende verdagtes sy motor genader het. Die verdagtes het skote op hom afgevuur en hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die verdagtes het in hul wegkommotor gevlug. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die omstandighede rakende die skietery sal deel van die ondersoek vorm.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die “barbaarse” moord op Vesele ten sterkste veroordeel.

“Die ondersoek is nog in ʼn vroeë stadium, maar alle aanduidings is dat die aanvaller(s) prof. Buhlungu geteiken het, wat nie ten tyde van die voorval in die motor was nie.

Prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap. (Foto: Facebook / Sakhela Buhlungu)

“Ek veroordeel die moord op Vesele en die aanval op die lewe van prof. Buhlungu ten volle. Hierdie aanval is nie net ʼn aanval op die Universiteit van Fort Hare nie, maar ook op die hele sektor vir naskoolse onderwys en opleiding.”

Nzimande het ʼn beroep op kalmte gedoen terwyl die ondersoek aan die gang is. Die minister het bevestig dat hy ʼn gesprek met Bheki Cele, minister van polisie, gehad het om te verseker daar is ʼn spoedige ondersoek en dat die aanvallers in hegtenis geneem word.

“Ek moedig al die visekanseliers en hoofde van TVET-kolleges aan om met my departement samesprekings te voer oor alle sekerheidsverwante kwessies sodat ons dit onder die aandag van die kabinet se veiligheidsgroepering kan bring, veral oor veiligheidskwessies wat ʼn invloed het op die instellings se vermoë om hul pligte uit te voer.”

Die minister beraadslaag tans met al die belanghebbendes en het ʼn brief aan die Universiteit van Fort Hare se raad gerig oor hoe om die situasie ten beste te hanteer.

Dit is volgens mediaberigte nie die eerste keer dat daar ʼn aanvalspoging op Buhlungu se lewe was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Burgermeester ·

Hoekom het ‘n visiekanselier van ‘n universiteit ‘n lyfwag nodig?

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie BBPs het deesdae lyfwagte. Dis ‘n gevaarlike land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dalk nie Sean, maar hy is in praktyk CEO van ‘n multimiljard rand besigheid. Maklike teiken vir ontvoering in Alice.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.