Moord, veediefstal in Gauteng neem toe

Die moordsyfer in die provinsie het in die eerste drie maande van die jaar toegeneem. (Foto: pixabay)

Voorvalle van moord en poging tot moord in Gauteng het tussen Januarie en Maart vanjaar steeds toegeneem, met die Gautengse provinsiale polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, wat waarsku dat syfers waarskynlik gaan toeneem wanneer die land ná die streng afsonderingstyd na normaal begin terugkeer.

Mawela het Vrydag ʼn oorsig van die provinsie se misdaadsyfers gegee nadat Bheki Cele, minister van polisie, die nasionale syfers twee weke gelede bekend gemaak het.

Moord het in dié tyd met 3,9% toegeneem – dit is ʼn styging van 36 – terwyl poging tot moord met 5% toegeneem het (50 meer voorvalle).

Mawela sê sogenaamde trio-misdade, wat bestaan uit kapings, sakerooftogte en rooftogte by huise, bly “een van die provinsie se grootste kopsere”.

Motorkapings in die provinsie het met 1,7% toegeneem (+38 voorvalle), terwyl sakerooftogte met 1,5% (+24 voorvalle) toegeneem het. Gewapende rooftogte by huise het minstens gedaal: Altesame 22 minder voorvalle, ʼn daling van 1,2%, is in dié kategorie opgeteken.

Kontakmisdaad
 Jan – Mrt (2019-’20)Jan – Mrt (2020-’21)Verskil in sake%-verandering
Moord930966+36+3,9%
Poging tot moord1 0051 055+50+5,0%
Ernstige aanranding9 0788 323-755-8,3%
Gewone aanranding12 19210 706-1 486-12,2%
Algehele gewone aanranding4 2923 507-785-18,3%
Algehele seksuele oortredings2 6022 625+23+0,9%

Transitorooftogte het met ʼn skamele twee voorvalle gedaal en waar dit dieselfde tyd verlede jaar op 21 voorvalle gestaan het, is 19 voorvalle vanjaar aangemeld.

Afgesien van voorvalle van veediefstal, het die meeste eiendomsverwante misdaad in die provinsie ʼn daling getoon. Altesame 36 voorvalle van veediefstal is egter in die drie maande lange tydperk in Gauteng aangemeld.

Dit is ʼn algehele styging van 17,6%.

Eiendomsverwante misdaad:

  • Huisbraak: -26,2%
  • Diefstal van motorvoertuig/motorfiets: -21,5%
  • Diefstal uit motorvoertuig: -34,8%

Moord

Uit die 966 moorde wat tussen Januarie en Maart vanjaar in Gauteng gepleeg is, het 31 met voorvalle van gesinsgeweld verband gehou, sê Mawela. Voorvalle van gesinsgeweld bly ook ʼn groot bydraer tot ander misdaad, waaronder verkragting en opsetlike saakbeskadiging.

Een dossier van moord op ʼn plaas of kleinhoewe is in die eerste kwartaal in die provinsie aangelê en twee mense het in die aanval gesterf.

Twee polisiebeamptes is tussen Januarie en Maart vermoor. Net een van hulle was aan diens.

Volgens Mawela is argumente, misverstande wat nie met gesinsgeweld verband hou nie, padwoede en uitlokking die grootste oorsake van moord in die provinsie.

Rooftogte, hetsy by huise, sakeondernemings of op straat, gevolg deur boendoehowe is verder verantwoordelik vir die meeste moorde in die provinsie.

Top-10-stasies in Gauteng
 MoordPoging tot moordMotorkapingHuisrooftog
1.Ivory Park (+100,5%)Tembisa (+3,3%)Loate (+533,3%)Honeydew (‑27,7%)
2.Hillbrow (+35%)Olievenhoutbosch (+13,6%Tembisa (+14,9%)Ivory Park (+40,5%)
3.Kagiso (+76,9%)Jeppe (-14,3%)Olievenhoutbosch (+75,0%)Diepsloot (+38,2%)
4.Evaton (+27,8%)Diepsloot (+100%)Sandringham (+176,5%)Olievenhoutbosch (+2,5%)
5.Jeppe (-28,6%)Atteridgeville (+300%)Honeydew (‑6,5%)Akasia (+56,0%)
6.Alexandra (+35,7%)Ivory Park (+26,7%)Kemptonpark (+7,5%)Sandton (-24,0%)
7.Germiston (+35,7%)Vosloorus (‑29,6%)Akasia (+10,5%)Kagiso (+120,0%)
8.Jhb-Sentraal (‑1,7%)Tembisa-Suid (+5,6%)Sandton (+73,9%)Roodepoort (+10,3%)
9.Tembisa (‑30,8%)Hillbrow (-17,4%)Moroka (-25,0%)Loate (+7,7%)
10.Orange Farm (‑23,8%)Alexandra (+38,5%)Pretoria-Wes (‑14,3%)Vanderbijlpark (+7,7%)

Syfers gaan toeneem

Mawela waarsku dat wanneer die volgende kwartaal se misdaadsyfers bekend gemaak word – en dit vergelyk word met die ooreenstemmende tyd verlede jaar toe die land aan ʼn streng inperkingstyd onderworpe was – gaan dit lyk asof misdaad hopeloos buite beheer is.

Hy sê dit is belangrik om perspektief te behou wanneer daar volgende kwartaal na die syfers gekyk word.

“Soos wat die land terugkeer na normaal, is misdaad ook besig om na gewone patrone [soos voor die afsonderingstyd] terug te keer.”

Hy sê ook in talle gevalle het die polisie die hulp van nasionale departemente nodig om misdaad in bedwang te bring.

Mawela het onder meer verwys na ʼn toename in die getal voorvalle op hoofweë waar motoriste se bande stukkend gesteek en hulle dan in ʼn lokval gelei word. Beter beligting van provinsiale paaie kan moontlik help om dié probleem te takel, sê Mawela.

Hy sê ook waar misdaad agter geslote deure plaasvind probeer die polisie sterk bande met die gemeenskap bou sodat hulle genoeg vertroue in die polisie het om die voorvalle aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Werner ·

Gaan defnitief baie erger word as hulle die mense begin ontwapen.Daarom ou Cele sal ons jou maar die verleentheid spaar en nie ons wapens gee nie.Dan sal misdaad nie so kwaai eskaleer nie

Hennie ·

En ou Cêle wil nie hê ons moet onsself verdedig nie… Wat ‘n po#pol!

JohanR ·

Hennie ek verstaan in Texas mag jy nie net dra nie maar jy mag “open carry.” Ek dink hier in SA mag net die polisie “open carry?” As jy ‘n geweer hier in SA het moet hy weg gesteek wees.

Adri ·

Netjiese misleiding: Namate misddad toeneem, “keer dinge terug na normaal ná die inperkings”. Dus: hoë misdaadsyfers is normaal. “gewone aanranding”? Kan enige aanranding normaal wees? Aijaijai!

JohanR ·

En my gooiste niemand het meer ‘n geweer om hulself te verdedig want daar le 250000 versoeke en stof vergader! En wie moet ons bedank – DIE ANC!

Persheks Adri ·

Kyk ons syfers in Gauteng, maar slimstes hoedeman wil ons ontwapen pffft! Kom vat dit uit my dooie hande uit hoed! Vertroue in die polisie? Jy grap seker iets wat lankal nie meer bestaan nie my sekuriteit maatskappy beteken meer!

Mariana ·

Nuwe nasionale sport in SA: Wie kan die grootste en beste krimineel wees. Daar is baie kategorieë om van te kies. Dit is soos die olimpiese spele…. net elke dag nie elke 4 jaar nie. Leerskool vir kriminele. En die wat aan die ontvangkant van hierdie dade is, mag en kan hulself nie verdedig nie, dit sal onregverdig wees teenoor die krimineel. Dis om van siek te word!!!

Willem ·

En in die lig van hierdie syfers meen die regering dit is ‘n goeie plan om nié meer wapens vir selfverdediging in privaathande toe te laat nie!? Wat is in hierdie mense se koppe verkeerd of is hulle bang iemand gaan op hulle skiet as hulle voortgaan met hul diefstalplanne?

Jakes ·

Daar verskyn elke dag syfers van misdaad op feitlik elke media platform denkbaar en vererger die situasie daagliks. Die doodstraf sal die enigste manier wees om permanent van hierdie uitvaagsels van die samelewing ontslae te raak. Die doodstraf moenie as n afskrikmiddel dien nie maar as n manier om die land te suiwer van mense wat geen nut of doel in die lewe het nie. Daar word amper gespog wanneer hierdie skrikwekkende syfers in die parlement genoem word. Ek skaam my dood om n burger van hierdie land genoem te word wat regeer word deur n party wat eintlik agter tralies hoort.

melW ·

Ek skud maar my kop. Niks gaan beter word of verander nie behalwe hoop en geloof want dis die kruks maar dit skeur my hart.

Nie Verbaas ·

“Mawela waarsku dat wanneer die volgende kwartaal se misdaadsyfers bekend gemaak word – en dit vergelyk word met die ooreenstemmende tyd verlede jaar toe die land aan ʼn streng inperkingstyd onderworpe was – gaan dit lyk asof misdaad hopeloos buite beheer is.” Verbasend dat hulle nou nog nie besef dat misdaad in die land lankal buite beheer is nie. Ek twyfel sterk or akkuraatheid van statistiek omdat ek op n groep is waar diefstal van veral motorfietse aangemeld word en dit is totaal en al buite beheer.

Samuel ·

Nee wat Cele alias Hoedman, gaan voort om SA’ner te ontwapen. Goeie werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.