Moordbeskuldigde aan getuie: ‘Ek moes jou eerder vermoor het’

Argieffoto van Trust Tofa. Foto: ANA.

ʼn Zimbabwiese man wat daarvan beskuldig word dat hy sy eksvriendin se kêrel tydens ʼn woedebui vermoor en haar twee maal verkrag het, het Woensdag die Port Elizabeth-hooggeregshof geskok toe hy die vrou, onderwyl sy getuig het, in die rede geval en gesê het hy moes háár eerder doodgemaak het.

Trust Tofa (30), die beskuldigde, het die vrou onderbreek en gesê hy moes haar, eerder as sy “Zimbabwiese broer”, vermoor het. Tofa het ook beloof al sit hy 200 jaar in die tronk sal hy haar “jag” en vermoor as hy uitkom, en as hy haar nie kry nie, sal hy haar kinders soek en hulle vermoor.

Tofa het haar ook onder meer ʼn “slet” genoem.

Hy dien tans ʼn vonnis van 12 jaar uit by die St. Albans-gevangenis ná hy skuldig bevind is aan onverwante aanklagte van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Regter Jannie Eksteen het Tofa aangespreek en hom gewaarsku dat sy uitbarstings sy saak kan benadeel.

Tofa het Woensdag weereens geweier om die beskuldigdebank te betree en gesê hy is ongelukkig daarmee dat joernaliste hom afneem. Hy het Eksteen toegespreek en gesê hy is bekommerd oor sy veiligheid en dat hy moontlik in die tronk vermoor sou word weens die gepubliseerde foto’s.

“Sê jy vir my dat die wet toelaat dat ek in die tronk vermoor word? Jy moet wag vir my om te praat. Tronkbewaarders is nie beskikbaar in die selle nie,” het Tofa aan die regter gesê.

Eksteen wou egter nie toelaat dat die publiek en die media die galery moet verlaat nie. Hy het ʼn reëling getref dat hy self die hof sal verlaat wanneer Tofa reeds teruggeneem is na die aanhoudingselle – dié reëling verhoed die media om foto’s te neem aangesien die hofverrigtinge tegnies dan nog aan die gang is.

Eksteen het gesê hy kan nie die media verhoed om argieffoto’s te gebruik nie. “As jou regsverteenwoordiger glo die media skend jou regte, sal hy ongetwyfeld ʼn aansoek indien.”

Die staat beweer dat Tofa in November 2016, gewapen met ʼn ysterstaaf en mes, na sy eksvriendin se huis gegaan het. Hy het volgens die staat die deur afgeskop terwyl sy en haar kêrel geslaap het.

Die slagoffer het Woensdag in fyn besonderhede van die aanval vertel en was soms emosioneel. Sy het aangevoer Tofa het haar geklap en weggestamp en haar kêrel toe met ʼn ysterstaaf aangerand. Die vrou het verder getuig hoe haar suster probeer ingryp en kookwater op Tofa gegooi het. Hy het haar toe glo met ʼn mes gesteek.

Die vrou beweer verder sy het haar probeer teësit, maar Tofa het haar na ʼn plakkershut in Motherwell geneem en haar twee keer verkrag. Sy was ses maande swanger tydens die beweerde verkragting. Sy beweer verder Tofa het haar op haar maag geslaan en die baba is drie dae later te vroeg gebore.

Tofa staan tereg op aanklagte van moord, huisroof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en verkragting.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stomgeslaan ·

WAT ‘n booswig. Nou gaan ons vir sy “boarding en lodging” betaal vir die volgende 50 jaar. Lekker man, lekker.

Neel ·

Jy het gemoor, dreig om haar te jag en te vermoor, dreig om haar kinders te vermoor, maar jy’s bang jý word vermoor in die tronk?? Stuur hom 25 + nog jaar tronk toe.

Leser ·

Ja nee, ek verstaan nie die redenasie nie? Die ou het ‘n problem!

Helene Heyns ·

Sy vonnise moet groot asseblief nie samelopend wees nie. Hy moet nooit weer die buitekant van die tronk sien nie. Hy is boos.

koos1 ·

Eksteen moet net daar die hofverigtinge gestop het en hom skuldig bevind het aan moord. Hy het dit dan beken.
Sy arme regsverteenwoordiger. Jou klient erken so te sê skuld in die hof voor ‘n regter?????? Hoe gaan jy nou wat gebruik om die ou verder te verdedig?????

thinus ·

Hy kom van Zim, kom moor en roof soos hy wil, en dan dreig hy om wraak te neem en het die vermetelheid om nog beskerming te eis, wie die hel dink hy is hy?
Jammer die regter moes ‘n man van durf wees wat hom net daar aanspreek, onmiddelik skuldig bevind en vonnis 2 of 3 x lewenslank en nie gelyklopend nie, geen opsie van parool nie! En daarby bylas dat dit in algehele afsondering tot sy dood moet wees.
WAT WIL HULLE NOG VERDER PROBEER BEWYS????

MCS. ·

Al my clips skakel oor na Engels het al gekla as dit aanhou gaan ek maroela media kanseleer op my foon. Veral as ek kommentare begin lees akakel dit oor na Engels. mcsteenkamp @gmail.com.

Vra net?? ·

Al soms gewonder of die regters in die geval Janni Ekssteen ook bang is vir hul lewe
Om misdadigers lewenslank te gee dalk vir VERGELDING op hul en geliefdes se lewe.
Hoekom hoef regters se name GESIEN en geweet van te word? Kan hul nie aandring om saak naamloos en gesigloos te hanteer vir hofgangers en kameras en media?
Wel bekend vir hofrekord en saakbelastiges.
Ek stel net belang in dat regter REG laat geskied nié WIE en hoe hy lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.