Moordbeskuldigde Rob Packham in getuiebank

Rob Packham in die hooggeregshof in Kaapstad, waar hy tereg staan vir die moord op sy vrou Gill. (Foto: Courtney Africa/ANA)

ʼn Bedaarde Rob Packham het vanoggend in die hooggeregshof in Kaapstad uitdruklik ontken dat hy enigsins betrokke was by die moord op sy vrou, Gill Packham.

Packham word beskuldig van moord, sowel as dwarsboming van die gereg vir sy beweerde moord op Gill in Februarie verlede jaar. Hy pleit onskuldig.

Gill het op 22 Februarie, die dag waarop sy as vermis aangegee is, nie soos gewoonlik omstreeks 07:30 by die werk aangekom nie. Haar liggaam is later in die kattebak van ʼn uitgebrande BMW naby die Dieprivier-stasie gekry.

Die staat voer aan Rob het haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en toe die BMW met haar liggaam daarin aan die brand gesteek, in ʼn poging om die gereg te dwarsboom deur bewyse te vernietig.

Bloedspatsels is in die motorhuis en badkamer van die Packham-woning gekry. DNS-ontledings daarvan het gewys dit was Gill se bloed in die badkamer, sowel as aan die deurhandvatsel in die binnekant van Rob se motor. Rob Packham se bloed is onder die wasbak in die badkamer en op ʼn handdoek of badmatjie gekry.

Rob Packham het getuig op die Sondag voordat sy verdwyn het, het Gill sakke na die vullisstortingsterrein geneem, nadat sy hom ʼn hele ruk lank gevra het om dit te doen. Gill het sy motor gebruik en volgens Rob het sy haar hand gesny toe sy die sakke opgetel het. “Ek kan net voorstel dat dit daarvan was,” het Rob Packham getuig.

Gill se bloed is ook op ʼn sak kompos gevind. Rob Packham het getuig dat ʼn doring Gill moontlik gesteek het. Sy was volgens hom ʼn ywerige tuinier.

Rob Packham het sy bloed in die badkamer verduidelik deur te sê hy het hom moontlik raakgeskeer. “Ek het ʼn klein moesie of vergroeisel op die nek wat gewoonlik raakgeskeer word. Dit gebeur verskeie kere per maand, tot só ʼn mate dat Gill vir my ʼn elektriese skeermes wou kry,” het Rob Packham getuig.

Toe adv. Craig Webster, wat Rob Packham verteenwoordig, hom gevra het of hy op enige manier betrokke was by sy vrou se dood, het hy uitdruklik geantwoord: “Ek was nie, beslis nie.”

Die egpaar het huweliksprobleme gehad en berading ontvang, nadat Rob Packham oor sy ontrouheid gebieg het. Die nag voor Gill se verdwyning het hulle ʼn beradingsessie gehad, teruggekeer huis toe en die res van die aand daar gebly, het Rob Packham aan die hof gesê.

Tydens kruisondervraging het Susan Galloway, ʼn senior staatsaanklaer, gesê getuie X (Rob Packham se gewese minnares wat nie geïdentifiseer mag word nie) het getuig dat Packham aan haar gesê het dat hy sy lewe liefhet, maar nie sy vrou nie.

Packham het toegegee dat hy dit vroeg in 2016 gesê het.

Hy het ook bevestig dat dit ongewoon was vir sy vrou om net te verdwyn of sommer ʼn dag verlof te neem en dat sy nie vyande gehad het nie.

Hierop het Galloway gevra of “haar dood die gevolg moet wees van ʼn toevallige kaping of aanval”.

Packham het gesê dit is sy aanname. “Ek skat so, ja,” het hy geantwoord.

Galloway het gesê die huisalarm was geaktiveer, die honde was buite en daar was geen teken van ʼn rooftog nie, maar Rob Packham het gesê: “Sy kon in die motorhuis aangeval gewees het. Ek weet nie. Ek het haar nie gevolg nadat sy weg is nie.”

Op die eerste dag van die verhoor wat verlede maand begin het, het Packham se jongste dogter, Nicola, getuig oor haar ouers se troebel huwelik. Sy het aan die hof gesê sy het van haar pa se buite-egtelike verhoudings geweet lank voordat haar ma in Oktober 2017 daarvan uitgevind het.

Nicola Packham het getuig dat haar ouers toegewyd was om aan hulle huwelik te werk, een keer ʼn week berading ontvang het en beplan het om hulle troubeloftes te hernieu. Die dag voordat Gill Packham verdwyn het, het haar pa in die beradingsessie gesê dat hy steeds gevoelens vir sy minnares het.

Vantevore het hy dit ontken, maar in dié sessie het hy met die waarheid vorendag gekom en “my ma was baie ontsteld daaroor”, het Nicola Packham getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blondie ·

My man sal my nooit ooit toelaat om alleen na ‘n vullisterrein te ry nie en ook nie eens saam met hom nie. Maak nie saak waar jy in hierdie land woonagtig is nie dis te onveilig.

Tammy ·

Dis tragies dat mans hulle vrouens verneuk, mishandel, en vermoor. Dit wil al lyk of dit n nasionale sport in Suid Afrika geword het. Selfs kinders word deur hulle pappas mishandel, verkrag en vermoor. Hoe lyk die statistiek van vrouens teenoor hulle mans wanneer dit kom by mishandeling, aanranding en selfs moord? Sou dit verkeerd wees om te se dit kom wel algemeen voor?? Hoop daar is iemand wat vir ons syfers kan gee.

Michael Bouwer ·

Wat wil jy bereik, deur jou nommers? Wat wil jy wys? Al jou bo genoemde kom voor ongeag of die beskuldigde n man of vrou is. Een voorval is te veel. Statestiek beteken niks!

Sies Rob! ·

Mens kan hieruit lees dat hy skuldig is man ; sy mond is tè glad en hy het ‘n antwoord vir alles. Pleks Gill hom maar gelos het, dat hy sy ‘minnares’ kan vat en loop. Dan het sy nog gelewe? jou lewe draai nie om jou man nie, sy het nog kinders gehad en vir my was Gill pragtig – sy kon ook ‘n nuwe lewe begin het. Nee wat Rob, jou lewe kan nie op geluk gebou word terwyl jy jou wettige vrou vermoor het vir ‘n ander ‘loslyf’ nie. Hoop jy vind die Here

Lynette ·

@Michael Bouwer Sjoe..hoekom so aanvallend? Miskien omdat jy een van die statistieke is? Statistieke is interessant, weerspieël ‘n tendens en kan ‘n krisis uitwys aan die oningeligtes.

Heksie ·

Watter vrou sou nie seer gemaak gevoel het as jou man na soveel berading steeds ontken dat hy gevoelens het vir sy x minares nie? Syt hom daaroor gekonfronteer, dinge het hand uit geruk, en hyt haar doodgemaak daar in die huis.
AS sy in ‘n kaping dood is soos hy beweer, hoekom het niemand iets gesien nie, bure, verbygangers, of was daar enige bewyse in die motorhuis van ‘n skruweling en DNA van ander in haar voertuig nie! EN as die motief roof was, hoekom haar in haar kar se kattebak sit en dit aan die brand steek? “Hulle” sou tog seker die BMW wou gehad het.
MAW volgens my, LIEG hy deur sy tande!

GM ·

Michael, statistiek beteken baie as syfers nie ‘gekook’ word nie. Daardie medisyne wat jy gebruik – dierestudies is uitgevoer, daarna is studies op mense uitgevoer – ‘statistical analysis’ is by beide uitgevoer om te kyk of die resultate ‘statistical significant’ is of nie. Dis net een voorbeeld van waar stats ‘n uiters belangrike rol speel.
Stats moes ook ‘n baie belangrike rol gespeel het in die opstel van die DSM wat sielkundiges en psigiaters gebruik om ‘mental disorders’ te klassifiseer.

Ons hele lewe draai om ‘Probabilities’ – m.a.w. Stats. – as mens mooi daaroor gaan dink.

Penelope ·

Dit is deesdae te maklik om ontrou te wees. Dit steek my dwars in die krop dat mense ‘n belofte voor God afle en dan van die pad afdwaal. Selfbeheersing is maar skaars by sommige mense. Hoeveel respek moet daardie dogter vir haar pa he? En JY mnr, hoe gaan jy voel as jou dogter se man haar behandel soos jy aan haar ma gedoen het. Gebruik bietjie ik in plaas van “korasie”…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.