Moordbeskuldigde weer in hof oor PE-pa se moord

Bhaven Moodley Foto: Facebook

Bhaven Moodley Foto: Facebook

ʼn 25-jarige man wat tereg staan op aanklag van die moord en verkragting van die 37-jarige Bhaven Moodley, het Donderdag weer in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Moodley, ʼn pa van twee, is Maandag in sy huis in Malabar dood aangetref.

Die beskuldigde, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, is dieselfde dag deur die Nelson Mandelabaai- anti-kapingseenheid in hegtenis geneem. Hy staan tereg op ʼn reeks aanklagte, waaronder moord, verkragting, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, roof met verswarende omstandighede, en die besit van vermoedelik gesteelde ware.

Hy sal na verwagting op 28 Januarie aansoek doen om borgtog. Hy word verteenwoordig deur sy prokureur, Lineen Swartz.

Staatsaanklaer Timothy van Rooyen het aangedui die staat gaan sy aansoek om borgtog teenstaan.

Die polisie het gesê dit wil voorkom of Moodley verwurg is. Sy 66-jarige ma, Shirley, is ook aangerand en sy was baie deurmekaar toe die polisie by die toneel opgedaag het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is by Brookes Pavilion, naby die strand in Port Elizabeth, in hegtenis geneem. Hy is aanvanklik aangekla van die besit van gesteelde eiendom. Van Rensburg het gesê die motor wat in sy besit gevind is, ʼn swart Mercedes-Benz AMG, is in Moodley se ma se naam geregistreer.

Die beskuldigde word by Walmer-polisiestasie aangehou.

Lees alle vorige berigte oor Bhaven Moodley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.