Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Donderdag bekendgemaak dat die land se moordsyfer en dié van ernstige misdade afgeneem het in die eerste gedeelte van die 2016/17 finansiële jaar in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.
“Daar was ʼn 2,3% afname wat moorde betref in vergelyking met die 8,8% toename teen die einde van die derde kwartaal in die 1015/16 finansiële jaar,” het Phahlane tydens ʼn perskonferensie oor die Safer Festive Season #BackToBasics-veldtog gesê. Dié veldtog het van 1 Oktober tot 31 Desember gestrek.
Altesaam 712 mense is tydens dié tydperk in hegtenis geneem in verband met moord terwyl 419 vir poging tot moord in hegtenis geneem is.
“Altesaam 13 250 inhegtenisnemings is gemaak in verband met kontakmisdade; diegene wat dus moorde sou pleeg is by dié syfer ingesluit.”
Hy het gesê kontakmisdade het met 5,3% afgeneem in vergelyking met die derde kwartaal in die 1015/16 finansiële jaar. Kontrakverwante misdade het met 5,4% afgeneem, eiendomsverwante misdade met 2,2% en ander ernstige misdade met 5,3%.
Hy het egter gesê die polisie bly bekommerd oor die sogenaamde trio-misdade; motorkapings, sakerooftogte en rooftogte by private wonings. Motorkapings het die afgelope finansiële jaar met 14,3% toegeneem.
Phahlane het die suksesse toegeskryf aan, onder meer, ʼn hoë polisiëringsigbaarheid, beplande ontplooiing, intelligensie-gedrewe operasies en direkte betrokkenheid van senior bestuurders in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Lees sy volle verslag hier.
AfriForum het ná die bekendmaking die polisie geprys vir die “uitstekende diens” wat hulle tydens die feesgety gelewer het.
“As toekomstige polisiekommissarisse sou voortgaan om op grondvlak saam te werk, soos wat hierdie feesgety die geval was, gaan ons ʼn toenemende verbetering in misdaadstatistiek sien. Dit dui op leierskap wat verstaan wat op grondvlak aangaan en wat strategies daarvolgens kan aanpas. Misdaad tydens die feesgety is gewoonlik buitengewoon hoog, maar dit lyk asof dié tendens verander kan word. Lt.genl. Khomotso Phahlane se strategie werk,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
Volgens Lorraine Claasen van die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) is dit duidelik dat die strategie van verhoogde sigbaarheid, beplande ontplooiing en intelligensiegedrewe operasies wat deur die SAPD uitgevoer word die afgelope feesgety vrugte afgewerp het. “Die suksesse word verder versterk deur die doeltreffende koördinering van alle rolspelers. Private sekuriteitsmaatskappye, veiligheidsnetwerke, buurtwagte en plaaswagte speel elk ’n noodsaaklike rol wat bystand aan die SAPD en gemeenskappe betref,” sê Claasen. “Die onus rus egter op die Suid-Afrikaanse regstelsel in geheel om te verseker dat geregtigheid geskied, veral as die regte van slagoffers in ag geneem word,” het sy gesê.
Cameron het die waarnemende nasionale kommissaris van polisie veral geloof vir die ommekeer in die polisie sedert sy oorname by lt.genl. Riah Phiyega.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
Ja, hoor!
Kom ons gee hom bietjie krediet. Onthou sy eie mense word ook vermoor.
Ag asb!!Ons is nou rerig nie so stupid om dit te glo nie…
En as die hemel val het ons almal blou kepsies op.
Ja en my 95 jarige oupa wen vir Bolt op die 200