Moorde, ernstige misdade het dié feesgety afgeneem

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Lt.genl. Khomotso Phahlane (Foto: eNCA/ Lenyaro Sello)

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Donderdag bekendgemaak dat die land se moordsyfer en dié van ernstige misdade afgeneem het in die eerste gedeelte van die 2016/17 finansiële jaar in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.

“Daar was ʼn 2,3% afname wat moorde betref in vergelyking met die 8,8% toename teen die einde van die derde kwartaal in die 1015/16 finansiële jaar,” het Phahlane tydens ʼn perskonferensie oor die Safer Festive Season #BackToBasics-veldtog gesê. Dié veldtog het van 1 Oktober tot 31 Desember gestrek.

Altesaam 712 mense is tydens dié tydperk in hegtenis geneem in verband met moord terwyl 419 vir poging tot moord in hegtenis geneem is.

“Altesaam 13 250 inhegtenisnemings is gemaak in verband met kontakmisdade; diegene wat dus moorde sou pleeg is by dié syfer ingesluit.”

Hy het gesê kontakmisdade het met 5,3% afgeneem in vergelyking met die derde kwartaal in die 1015/16 finansiële jaar. Kontrakverwante misdade het met 5,4% afgeneem, eiendomsverwante misdade met 2,2% en ander ernstige misdade met 5,3%.

Hy het egter gesê die polisie bly bekommerd oor die sogenaamde trio-misdade; motorkapings, sakerooftogte en rooftogte by private wonings. Motorkapings het die afgelope finansiële jaar met 14,3% toegeneem.

Phahlane het die suksesse toegeskryf aan, onder meer, ʼn hoë polisiëringsigbaarheid, beplande ontplooiing, intelligensie-gedrewe operasies en direkte betrokkenheid van senior bestuurders in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Lees sy volle verslag hier.

AfriForum het ná die bekendmaking die polisie geprys vir die “uitstekende diens” wat hulle tydens die feesgety gelewer het.

“As toekomstige polisiekommissarisse sou voortgaan om op grondvlak saam te werk, soos wat hierdie feesgety die geval was, gaan ons ʼn toenemende verbetering in misdaadstatistiek sien. Dit dui op leierskap wat verstaan wat op grondvlak aangaan en wat strategies daarvolgens kan aanpas. Misdaad tydens die feesgety is gewoonlik buitengewoon hoog, maar dit lyk asof dié tendens verander kan word. Lt.genl. Khomotso Phahlane se strategie werk,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Lorraine Claasen van die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) is dit duidelik dat die strategie van verhoogde sigbaarheid, beplande ontplooiing en intelligensiegedrewe operasies wat deur die SAPD uitgevoer word die afgelope feesgety vrugte afgewerp het. “Die suksesse word verder versterk deur die doeltreffende koördinering van alle rolspelers. Private sekuriteitsmaatskappye, veiligheidsnetwerke, buurtwagte en plaaswagte speel elk ’n noodsaaklike rol wat bystand aan die SAPD en gemeenskappe betref,” sê Claasen. “Die onus rus egter op die Suid-Afrikaanse regstelsel in geheel om te verseker dat geregtigheid geskied, veral as die regte van slagoffers in ag geneem word,” het sy gesê.

Cameron het die waarnemende nasionale kommissaris van polisie veral geloof vir die ommekeer in die polisie sedert sy oorname by lt.genl. Riah Phiyega.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Alida ·

Kom ons gee hom bietjie krediet. Onthou sy eie mense word ook vermoor.

Jan maak n plan ·

En as die hemel val het ons almal blou kepsies op.

Johnny ·

Ek stem, Jan Maak ‘n Plan. Rassegeweld is deel van ons realiteit. So gooi bietjie die analise
1. Wit op wit
2. Wit op swart.
3. Swart op wit
4. Swart op swart.
5. Ander.

Asjas ·

Johnny, moet nie die Polisie/Petro op ander statistiek uitlaat nie. Polisie is betrokke by inbrake, transito rowe, moord, gesinsgeweld (moord) ens ens.

Lance ·

Al se hy wat sy back to basics werk maar baie swak …die polisie is net reaktief …wie is nog bang of het vertrou of respek vir of in die polisie …week na week lees mens van polisie wat self by rooftogte etc betrokke is …in my oe bly die polisie pateties en n joke …voel gladnie veilig in my eie huis wat nog tese op straat.

CdL ·

NIE WAAR NIE!!! Die publiek weet nie eens van al die moorde wat daagliks gebeur nie, nie alles word bekend gemaak op sosiale media nie, ek het by n staatslykshuis gewerk. BAIE slagoffers wat daagliks ingekom het waarvan die publiek nie weet nie, en daar is baie staatslykshuise regoor SA.

Piet ·

Grafieke het altyd maar n op en af neiging, maar oor n langer termyn kan mens sien in watter rigting dit eintlik beweeg. Almal weet in watter rigting het misdaad geskiet sederd die ANC oorname. Almal moes ook maar geweet het dat dit is wat sal gebeur. Daar was mos genoeg voorbeelde elders in Afrika.

helene ·

Og, wat my so woedend maak is dat die ou ons intelligensie so onderskat of is hy n gewoonte leuenaar! Jissie!!

John ·

Maroela hoekom verander ons nou in ‘n misdaad-en-verdriet-nuuskanaal met soveel wat in die wereld gebeur wat ons ook raak? Ons Afrikaners kan nie stagneer nie… en ons luite en fluite aan die wilgerbome langs die Vaalrivier ophang en sit en treur nie…

Danie ·

Dit klink my jy is ‘n ou wat net oor syfers en nommers bekommerd is. Ek is nogal hartseer as enige van my vriende en familie gesterf het (natuurlik/moord) of as hulle die slagoffers van enige misdaad was. Mens noem dit liefde vir die medemens (menslikheid). Ek gaan treur. Ek wil treur. Daarna gaan die lewe aan. Hoekom moet Maroela Media dan daaroor swyg omdat dit nie in jou wêreld inpas nie en dit vir jou ongemaklik is. Daar buite is die realiteit. Ons leef in die realiteit. Die realiteit sluit baie misdaad en baie hartseer in.

Joey Fourie ·

As daar wel ‘n afname was in misdade, is dit omdat burgerlike beskermingsorganises, buurtwagte en GPF-groepe baie aktief was en bedags en snags patrollie gery het

Carlia ·

Moord is altyd ‘n “robbery going wrong”. Iewers het hy nie die regte feite op die tafel nie. Ai, ai, wanneer sal die ANC leer om minder te lieg en net eerlik te regeer. Nie in my leeftyd nie.

Jane ·

Ja hoor met ‘n plaasmoord amper elke dag … Ek glo die persoon wat die calculations doen is diegene wat met 40% Wiskunde deurgekom het. Ons is almal van mening dat die misdaadsyfers gekook word .. en nie ‘n korrekte weergawe is van wat regtig plaasvind nie, net soos die matriekslaagsyfer. Dikwels hoor ons van ‘dockets’ wat nooit eers oopgemaak is nie, of as mense navraag na ‘n saak doen is daar niks op rekord nie, waar word dit aangeteken? Op ‘n swartbord met bordkryt waar dit aan die einde van die dag uitgevee word? Dit is alles om die ANC in ‘n goeie lig te stel by die buiteland en by sy ondersteuners .. so pateties, almal is nie so dom soos die ondersteuners wat 20 jaar gelede geglo het hulle gaan almal VERNIET huise, motors, yskaste en lopende water en ‘n mediese fonds kry nie.

Lank lank gelede ·

1015/16 finansiele jaar? Jis dit was lank gelede.

Delta Mike ·

Hierdie is die grootste lieg storie, ek werk met misdaad elke dag, baie betrokke by SAPS optredes ens, ek het nog nooit soveel kapings, goed georganiseerde swaar gewapende transito rowe en swaar gewapende winkel sentrum rowe in my lewe gesien nie soos beleef in Desember 2016. In my lyn van werk die afgelope 30 jaar was Desember 2016 chaos ten opsigte van misdaad. Die kwaliteit en standaarde van n baie groot deel van SAPS lede is nog net so pateties soos altyd. Daar is wel n handjie vol lede wat nog hul uiterste bes lewer, hulle is ongelukkig erg in die minderheid, so ek sal graag wil sien op wat baseer hy sy feite dat “ernstige” misdade afgeneem het die feestyd.

Max ·

Die polisie sigbaarheid wat ek sien is n bewustelose sigbaarheid en nie n voorkomende sigbaarheid nie. En tweedens, hoeveel moorde is as geregtelike doodsondersoeke geregistreer om sodoende die aantal moordsake te laat daal !

CAV ·

Sover my kennis strek, is dit elke jaar die geval – misdaad is elke jaar minder oor die fes seisoen – so dit is niks nuut nie, weet nie waaroor die bohaai gaan nie
Hoe dit ook al sy, wel gedaan aan SAP

Ben ·

Die syfers is MISKIEN korrek, maar die feit is, dit is nie NOEMENSWAARDIG nie. Die afneem persentasies is so gering dat ek (bv) nie daarop sal trots wees nie. Ons, die dinkende publiek, soek syfers van 25%, 50% & 75% afname voordat ons julle skouers sal klop met ‘n glimlag daarby. Ek dink dat bogemelde syfers bloot toevallig is en nie agv daadwerklike teenkriminele aksies is nie. My opinie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.