‘Moordenaar’ bring self lyk vir polisie

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn Man het Sondagoggend in Rustenburg, Noordwes, na bewering sy vriendin met ʼn mes doodgesteek voordat hy met haar liggaam in sy motor na ʼn polisiestasie gery het om die moord aan te meld.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die 38-jarige man het in die vroeë oggendure by die Rustenburg-polisiestasie opgedaag en aan die beamptes aan diens gesê hy wil homself oorgee vir die moord op sy 25-jarige vriendin.

“Die man het die beamptes na sy voertuig geneem wat op die polisiestasie se perseel gestaan het. In die voertuig het ʼn vrou gelê met ʼn steekwond aan haar rug,” het Mokgwabone gesê. “Die nooddienste is ontbied en hulle het die vrou dood verklaar.”

Volgens Mokgwabone het die man gesê hy en sy vriendin het in ʼn taverne in die Lethabong-nedersetting gekuier toe hulle in ʼn stryery betrokke geraak het. Dit het daartoe gelei dat hy haar glo met ʼn mes gesteek het. Die man het gesê hy het self sy vriendin se liggaam in die motor gelaai om na die polisiestasie te bring.

Die man sal Dinsdag in die Tlhabane-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pendoring ·

Brandewyn het nie brieke nie, ook nie ontsag vir ‘n lewe nie.

Cherokee ·

Dat hy homself gaan aanmeld het behoort op geen manier as versagtend gehanteer word nie.

Denise ·

En dit maak nou van hom n eerlike man ?????? Geweld is nie n oplossing nie !!!!!! Dit wat hy gedoen het is moord!!!

Riki ·

Ek het mooi gaan lees en sien nie dat die man eerlik genoem word of dat daar versagtende omstandighede gaan wees nie.

Perd ·

In hierdie land kry alle moordenaars automaties versagtende omstandighede.

vonnie ·

ek kan regtig nie verstaan hoekom daar altyd aanhalings tekens gebruik moet word nie? as die ou dit gedoen het dan het hy dit mos “gedoen” . genade, selfs “verkrag” , dis deesdae so maklik om iets net in ” __” te sit en dit maak als net beter, sagter!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.