‘Moordenaar’ by slagoffer se begrafnis in hegtenis geneem

Die toneel waar die moord plaasgevind het. Foto: Facebook via Reaction Unit South Africa.

ʼn Tragiese voorval waartydens ʼn KwaZulu-Natalse vrou tydens ʼn beweerde “rooftog” wreed voor haar baba vermoor is, het ʼn skokkende wending geneem nadat haar kêrel vir haar moord in hegtenis geneem is.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het hom op 17 April in die Cottonlands-omgewing naby Tongaat afgespeel. ʼn Motoris het hulp ontbied nadat hy verby ʼn suikerrietplantasie gery en gesien het hoe ʼn bebloede vrou langs die pad lê met haar baba wat bo-op haar sit en haar man aan haar sy.

Paramedici is ontbied en het probeer om die vrou by te bring, maar sy is op die toneel dood verklaar.

Die 27-jarige man het beweer hy en sy 21-jarige vriendin het in die gebied geloop toe hulle deur twee onbekende mans aangeval en beroof is. Volgens die man het die rowers sy vriendin met ʼn mes gesteek en sy het op die toneel doodgebloei. Die paartjie se eenjarige baba het glo die traumatiese voorval aanskou.

Die toneel waar die moord plaasgevind het. Foto: Facebook via Reaction Unit South Africa.

Reaction Unit South Africa het vroeër in ʼn verklaring gesê polisiebeamptes moes die baba verwyder wat bo-op sy ma se liggaam gesit het.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het dadelik ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur. “Die ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte onder eed gelieg het toe hy aan die polisie gesê het hy en sy vriendin is deur twee onbekende mans aangeval,” het Mbhele gesê.

“Dit het aan die lig gekom dat hy die een is wat na bewering verantwoordelik was vir sy vriendin se dood en agterna selfmoord probeer pleeg het.”

Mbhele het gesê die man is op 22 April by sy vriendin se begrafnis vir haar moord in hegtenis geneem. “Die man het Dinsdag in die Verulam-landdroshof verskyn. Hy sal weer op 3 Mei in die hof verskyn wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.”

Mbhele kon nie onmiddellik die naam van die verdagte bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Haibo ·

Gelukkig het ons volgens Me Sisulu NET wetsgehoorsame burgers in die land, dit is seker FAKE nuus hierdie .. plaasmoorde en familiemoorde en bendegeweld bestaan daar nie, VERAL nie moorde op wittes nie.

JIP ·

Hy sal weer borgtog kry en ‘n studiebeurs om te gaan studeer en ‘n RDP huis .. ek ken hierdie stories jy moet net vir die regte party stem. Dit is vrek hartseer van die vrou wat vir haar lewe moes boet en die kind wat sonder ‘n ma moet grootword, maar in SA word die moordenaars BELOON en gepaai ..

Sanette ·

Ek kan nie meer hierdie berigte oor als wat in SA en in die wêreld aangaan lees nie. Dit is absoluut skokkend. Die arme vrou en die arme arme kind! Wat gaan aan in die wêreld? Here, help ons asb!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.