Moordenaar gevonnis; swyg oor medepligtige

Argieffoto

ʼn Polisiekonstabel van Limpopo is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op ʼn winkeleienaar sonder om ooit bekend te maak wie sy medepligtige by dié misdaad was.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het Donderdag gesê konst. Kulani Obert Manganyi (37) is in die hooggeregshof in Thohoyandou tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord en tot ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf vir gewapende roof.

Die aanklagte hou verband met die rooftog van ʼn spaza-winkel in 2014. “Manganyi en sy medepligtige het Abdulah Hassan Omar, ʼn 27-jarige winkeleienaar in die Hlanganani-nedersetting, oorval en hom in ʼn kamer ingedwing waar drie ander slagoffers gyselaar gehou is,” het Mojapelo gesê.

“Omar is twee keer in die maag geskiet en het op die toneel gesterf. Die twee rowers het R3 000 kontant geroof en te voet van die toneel gevlug.”

ʼn Forensiese ondersoek het tot Manganyi se inhegtenisneming gelei toe sy vuurwapen deur ballistiese toetse met die misdaad verbind is. Hy het egter dwarsdeur die verhoor geweier om die identiteit van sy medepligtige bekend te maak.

“Sy weiering om sy samewerking aan die polisie se ondersoek te gee het hom geensins gebaat nie, aangesien hy uiteindelik alleen skuldig bevind en gevonnis is vir die moord op mnr. Omar,” het Mojapelo gesê.

Manganyi se vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.