‘Moordenaar’, ‘verkragter’ laat vaar borgtogaansoek ná gemeenskap opruk

Die betogers buite die hof. Foto: Lt. Luvuyo Mjekula / SAPD

Die betogers buite die hof. Foto: Lt. Luvuyo Mjekula / SAPD

ʼn 43-jarige man wat aangekla word van die verkragting van ʼn 11-jarige meisie en ʼn 28-jarige man wat glo sy meisie vermoor het, het Woensdag hul borgtogaansoeke laat vaar, glo uit vrees vir betogers uit die gemeenskap wat buite die hof opgeruk het.

Lt. Luvuyo Mjekula, polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het gesê nagenoeg 150 inwoners, onder wie ʼn pastoor en ʼn politieke leier, het buite die Port Alfred-landdroshof betoog waar die twee mans om borgtog aansoek gedoen het.

Van die mense het plakkate rondgeswaai met die woorde: “Is dit sonde om ʼn vrou te wees?” en “Respekteer God, Respekteer ʼn mens”. Die betogers het vir strenger vonnisse gevra, veral waar misdaad teen vroue en kinders gepleeg is.

“In die verkragtingsaak word beweer dat die man sy meisie se dogter in twee afsonderlike voorvalle in Desember en Februarie in Nemato verkrag het. Die misdryf is egter eers op 9 Maart agtergekom, nadat dit aan die lig gekom het dat die 11-jarige swanger is,” het Mjekula gesê. Die verdagte se naam mag nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die meisie te beskerm.

“Phumlani Mamani, die man wat teregstaan op die moord van sy 20-jarige meisie, het haar na bewering oor die naweek in Nemato met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Haar liggaam is Sondag deur ʼn voetganger aangetref.”

Albei verdagtes is deur die spoedige optrede van die Nemato-polisie in hegtenis geneem.

Hulle het Woensdag direk ná mekaar in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog, maar het aan die hof gesê dat hulle hul aansoeke wil terugtrek.

Landdros Xolile Dlulisa het die sake tot 28 April uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gatiep ·

Hulle gaan nou die selfde beskerming as Zuma kry. Kriminele run die wereld so maklik om dit raak te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.