Moordenaars gevonnis: ‘Jy het duidelik geen siel nie’

Ao. Steven Britz. Foto: Facebook

Ao. Steven Britz. Foto: Facebook

Regter Gayaat Salie-Hlophe het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê die voormalige konstabel, Luvuyo Ndevu (33), wat sy kollega, ao. Steven Britz, in 2014 doodgeskiet het, het “duidelik geen siel nie”.

Salie-Hlophe het Ndevu tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Britz en nog 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Ndevu se medebeskuldigde, Mlindi Mbaliso (34), is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis op ʼn aanklag van moord en nog 11 jaar tronkstraf op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Ndevu het saam met Britz by die Klapmuts-polisiestasie gewerk en is ongeveer ʼn maand voor die moord geskors. Britz was die aand van 16 April 2014 alleen by die polisiestasie aan diens, toe twee mans die stasie binnegestorm het. Die pa van twee is twee keer in die kop geskiet. Die rowers het verskeie vuurwapens en ammunisie uit die polisiestasie se kluis gesteel en Britz se amptelike vuurwapen is ook gebuit.

Salie-Hlophe het tydens Ndevu se vonnis gesê daar was geen ingrypende of oortuigende omstandighede wat dit regverdig om van die voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie. Sy het gesê die roof van vuurwapens uit ʼn polisiestasie is op sigself ʼn “gruwelike misdaad” wat “burgerlike anargie” aanhits.

Salie-Hlophe het die misdaad as “onmenslik” beskryf en beklemtoon Britz was Ndevu se kollega en die twee is opgelei om mekaar te beskerm. In plaas daarvan om hom te beskerm, het Ndevu Britz se laaste oomblikke met skok en vrees gevul. “Jy het duidelik nie ʼn siel nie. Jy het ʼn wrede gees,” het sy gesê.

 

Britz se koeëlvaste baadjie is verwyder en hy is aangesê om op sy maag te lê. Hy is toe twee keer van agter in die kop geskiet. Die eerste koeël het deur sy linkerhand gegaan soos hy homself probeer beskerm het.

Terwyl Salie-Hlophe Mbaliso se vonnis uitgespreek het, het sy genoem hy het nie enige berou getoon nie, maar bloot sy spyt uitgespreek dat hy die motor na die polisiestasie toe bestuur het. “Jy is jammer jy is uitgevang. Jy is nie jammer oor hierdie gruweldade wat jy gepleeg het nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg Mbaliso se erkenning dat hy wel by die polisiestasie was, is ʼn grondige rede om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk. Sy het gesê Mbaliso was nie die baasbrein agter die misdaad nie, maar is deur Ndevu beïnvloed en gemanipuleer om deel te neem.

Albei beskuldigdes is verbied om ooit weer ʼn vuurwapen te besit.

Mbaliso en Ndevu het Donderdag so ver as moontlik van mekaar af in die beskuldigdebank gesit. Nie een van hulle het enige emosie ten tyde van die vonnislewering getoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Mag dit as voorbeeld dien vir alle MOORDENAARS….dat geregtigheid wel geskied. Net jammer dat n lewe die koste vir hierdie voorbeeld moes wees. My innige simpatie vir familie en vriende wat weer deur die trauma moes gaan nou….

Snip ·

Ek kan nie die seer beskryf wat ek tans ervaar nie, hoe moet die familie dit nog aanvaar. Ek is absoluut in trane. Mag God julle dra.

Hannelie ·

Give that Judge a Bells! Dis min wat ons so ‘n vonnis sien. Dankie tog dat geregtigheid geskied.

Cherokee ·

Ek hou van jou idee Hannelie! En jy het my skielik op ‘n blink plan gebring. Mens moet tydens sò ‘n saak agter in die hof sit met ‘n bottel Bells en wanneer die regter die vonnis begin uitspreek lig jy die Bells sodat die regter dit kan sien.

Lance ·

Ek is net so verbaas hoe baie mense daar is wat roof en moor ….die mense is SIEK !!!

REGVERDIG ·

Hy is vèr weg gebêre……. skiet sy kos met n kettie in…

Karma ·

Regverdig, dit is nie eens regverdig dat hy kos moet kry nie ….Te hel met “skiet sy kos met ‘n kettie vir hom in”: maak soos daar in die Brasiliaanse tronke gemaak word – hulle moet hul kos verdien en water is ‘n luuksheid, so ook klere, mediese sorg en besoeke van buite. Wanneer ons tronke ophou om mini-hotelle te wees, sal dit beter buite wees en dan sal tronkstraf ‘n ware afskrikmiddel wees. In in lande soos Viëtnam en Thailand beteken 10 jaar, TIEN JAAR tronkskraf: daar word jy nie na 3 jaar vrygelaat as jy jou goed gedra het nie.

Pietman ·

Almal is in ekstase oor die regverdige vonnis. Lees die laaste deel van die uitspraak : GELYKLOPEND. Dit is snert! Dit beteken dat hy 20 ‘lewenslange ‘ vonnisse kon kry, en net een tel. Daarom sal hy n hele paar jaar sit, en dan?????. Terug op straat. Regsuitsprake bluf die publiek lekker.

Ben Prinsloo ·

Dit is so jammer dat Maroela media nie altyd my kommentaar plaas nie. Ek gebruik nie kru taalof iets derglik nie. Ek praat net reguit soos dit hoort, op die man af. Nee Maroela media dit het tyd geword dat die blankes wat so gruwelik uitgemoor en vertrap word se stem ook gehoor word. Ons het ook n reg!!!!!

des ·

Hulle moes doodstraf gekry het. Hulle het ‘n lewe geneem en nou het hulle nog regte, wat van die oorledene en sy familie. Bring die doodstraf terug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.