Moordenaars van Baaise bejaarde gevonnis

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Twee mans is vandeesweek in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis vir die wreedaardige moord op die 86-jarige Anne Smith van dié stad in die Oos-Kaap.

Smith is in Mei 2018 in haar huis in Kammapark met ʼn hamer aangeval en het sowat ʼn maand later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê Sizwe Jika (28) en Junior Lungisa (20) is Woensdag op aanklagte van moord elkeen tot 25 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is.

Jika is ʼn verdere 20 jaar tronkstraf op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en tien jaar op aanklagte van huisbraak en diefstal opgelê.

Lungisa is op sy beurt tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en drie jaar op aanklagte van huisbraak en diefstal gevonnis.

Volgens Naidu sal dié vonnisse gelyklopend uitgedien word. Jika en Lungisa sal dus elkeen 20 jaar tronkstraf uitdien.

Naidu het voorheen gesê Jika het ook in Mei verlede jaar skuldig gepleit op ses aanklagte van huisbraak, waarvoor hy reeds tot 16 jaar tronkstraf gevonnis is. Dié misdade is tussen 2011 en 2018 gepleeg.

Maroela Media het destyds berig Smith was in ʼn kritieke toestand toe sy ná die aanval in die waakeenheid van ʼn plaaslike hospitaal opgeneem is. Sy het bloeding op die brein gehad.

Smith het nooit dermate herstel dat die polisie ʼn verklaring by haar kon afneem nie.

Luidens inligting het ʼn buurman van Smith op 28 Mei 2018 omstreeks 13:00 gesien hoe twee mans oor die muur om haar erf in Marthastraat in Kammapark spring. Hy het die verdagtes agternagesit en hulle het ʼn sak met waardevolle besittings, waaronder ʼn skootrekenaar en kameras, laat val.

Die buurman en ander inwoners is daarna na Smith se huis, waar hulle haar in ʼn plas bloed op die vloer aangetref het. Sy is vermoedelik met ʼn hamer aangerand toe sy die mans betrap het terwyl hulle haar huis geplunder het.

Smith het ten tyde van die voorval saam met haar volwasse seun, wat doof en verstandelik gestrem is, gewoon. Hy is ongedeerd gevind, maar kon nie vir die polisie sê wat gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Moet ons ook die strate invaar en links en regs begin plunder en brandstig elke keer dat ‘n Blanke vermoor word? Miskien is dit die enigste uitweg om die wêreld se aandag te trek.

Johann ·

Askuus tannie…askuus askuus dat jy só moes seerkry en sterf. Ek kry skaam om te dink n ander “man” kan so iets aan die onskuld self doen?

Hendrik ·

1. Wat het toe van die seun geword?
2. As die vonnisse gelyklopend uitgedien word gaan hulle mos nie 20 jaar sit nie maar oor n paar jaar op parool uitkom.

Jannie van Niekerk ·

Net 20 Jaar? Vyf jaar opgeskort? Iets is drasties fout met Suid Afrika se regstelsel. (Wanneer dit by wit mense se menseregte kom) Dit wil voorkom of die tannie nie ‘n reg op el;we gehaqd het nie maar haar moordenaars kom weg met ‘n vakansie van 20 jaar…

Sarel ·

Verder soveel jaar vir dit en soveel jaar vir dit en dat maar…..word aaneenlopend uitgedien ….bla bla bla

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.