Moordklag teen burgemeester teruggetrek

Mluleki Ndobe, uitvoerende burgemeester van die Harry Gwala-munisipaliteit in die Umzimkhulu-landdroshof (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency(ANA)

Mluleki Ndobe, uitvoerende burgemeester van die Harry Gwala-munisipaliteit, het gesê hy is “verlig, maar kwaad” dat aanklagte teen hom in verband met die moord op Sindiso Magaqa voorlopig teruggetrek is.

Aanklagte van moord en poging tot moord is Maandag by die Umzimkhulu-landdroshof voorlopig teruggetrek teen die 44-jarige Ndobe en beskuldigde nommer 3, die 48-jarige Zweliphansi Skhosana. Die staatsaanklaer het dié aankondiging gemaak toe die hofverrigtinge begin het en verduidelik daar is nie voldoende bewyse teen die twee mans nie.

“In hierdie stadium is ek nie bereid om enigiets te sê nie,” het Ndobe aan verslaggewers gesê. “Ek is verlig, maar ek is terselfdertyd ook baie emosioneel en kwaad daaroor. Ek kan van enigiets beskuldig word, maar beslis nie vir moord of sameswering om moord te pleeg nie.”

Hy het gesê hy sal met sy regspan konsulteer en wil ook terugvoer kry van die ANC-leierskap. Volgens hom is sy naam “deur die modder gesleep”. “Ek bedank die ANC en sy leierskap en lede vir die ondersteuning wat ek gekry het.”

Skhosana en Ndobe is verlede week saam met Sbonelo Lindelani Myeza (39) en Mbulelo Innocent Mpofani (34) in hegtenis geneem in verband met die moord. Hulle is in hegtenis geneem op aanklag dat hulle saamgesweer het om Magaqa en sy kollegas, Nontsikelelo Mafa en Jabu Msiya, in Julie 2017 te vermoor.

Twee groot ANC-faksies het Maandag buite die hof vergader. Een groep het Magaqa ondersteun en het versoek dat die aansoek om borgtog afgekeur moet word. Die ander groep het Ndobe ondersteun.

Magaqa was ten tye van sy dood ʼn skakelwese-raadslid by Umzimkhulu. Hy is langs sy kollegas Mafa en Msiya geskiet en het in September 2017 gesterf weens komplikasies van verskeie skietwonde. Mafa en Msiya het die aanval oorleef.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het in September 2017 aangekondig een van die verdagtes, Jabulani Mdunge (38), was betrokke by die moord en poging tot moord. Mdunge is in ʼn skietery met die polisie op die N2 tussen Kokstad en Harding dood ná hy met ʼn transitorooftog verbind is.

Sibusiso Malusi Ncengwa (30) is in September 2018 in hegtenis geneem vir sy vermeende betrokkenheid by Magaqa se moord en die poging tot moord op Mafa en Msiya. Hy is tans verhoorafwagtend.

Myeza en Mpofani se aansoek om borgtog duur Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem van der Merwe ·

Ek will aansluit by die and,joy aanklagte verdwyn geriefliks onthalwe maklik

marous ·

Hoe kla jy iemand aan sonder getuienis ? Wat ‘n patetiese onbekwame spul !

willem Botha ·

So die belasting diewe het weer die saak op ge neuk was dit onbevoegdheid of gepeuter met die bewyse?

PJC ·

Hierdie laat ń mens wonder of die aanklaer nie dalk opdragte van iewers kry nie want hierdie saak het op ń baie ongerieflike tyd vir die ANC gekom.

Peet ·

Seker die magistraat gedreig! Nou is hy bang! Hulle behoort beskerming vir hom en sy familie te kry Dan kan hy optree sonder vrees of bevooroordeling!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.