Moordklag teen Calvinia se ‘Boer Albertus’

(Foto: Facebook/Albertus Steenkamp)

ʼn Gewilde deelnemer aan een van die Boer soek ʼn vrou-werklikheidsreekse, Albertus Steenkamp (40), word nou vir die moord op een van sy voormalige plaaswerkers, Isak Pienaar, aangekla.

Pienaar is in 2020 dood ná hy glo van ʼn skoorsteen van Steenkamp se plaashuis naby Calvinia afgeval het.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die saak vroeër na die NVG verwys om vas te stel of Steenkamp vir Pienaar se dood vervolg moet word. Daar is besluit om wel met vervolging voort te gaan.

“Die beskuldigde se verhoor sal van 18 tot 21 Junie en 22 tot 26 Julie volgende jaar plaasvind. Hy staan ​​tereg op aanklagte van moord, regsverydeling sowel as poging tot moord.”

(Foto: Facebook/Albertus Steenkamp)

Steenkamp is in Maart vanjaar op ʼn afsonderlike aanklagte in hegtenis geneem ná hy glo ʼn ander werknemer, Goodson Mayenda (23) – ná ʼn twis oor sy salaris – met ʼn bakkie in Calvinia in die Noord-Kaap omgery het.

Mayenda, ʼn Malawiër, het Steenkamp na bewering oor sy onbetaalde salaris gekonfronteer, waarna Steenkamp hom glo aggressief gevra het om die plaas te verlaat. Mayenda is die volgende dag terug om met Steenkamp oor die onbetaalde salaris te praat, waarna Steenkamp hom glo met ʼn paal gedreig het.

Mayenda het later – uit vrees vir sy lewe – besluit om sy klere te gaan haal en die plaas te verlaat, waarna Steenkamp hom glo met sy voertuig agtervolg en omgery het. Hy is op 27 Maart op ʼn aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem en is vyf dae later op borgtog van R5 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Janice ·

Dalk is daar bewyse laat die werker gestamp is. Kom ons wag en sien wat uitkom.

hpven ·

Waarskynlik te doen met “Working on heights” wetgewing en regulasies. Die werkgewer en/of toesighouer asook werknemer is verplig tot voorgeskrewe gesertifiseerd opleidng asook sekere veiliheids toerusing wat bekikbaar moet wees. Jy as werkgewer moet toesien dat die nodige toerusting bekikbaar is en dat die werknemer dit gebruik en reg gebruik. Dit behels vir enige hoogte bo 2 meter!

Oom Charles ·

In daardie geval ‘growwe nalatigheid’ of ‘manslag’ (aksie wat tot die onbedoelde dood van ‘n ander persoon lei) maar nie ‘moord’ nie (voorafbeplan, met die bedoeling om iemand te dood)
Hoop regtig die klagstaat tref hierdie onderskeid – ‘moord’ is nie ‘n begrip waarvan iemand na goeddunke aangekla kan word nie.

Juanita ·

Die vraag is…… was dit ‘n ongeluk en waar was Steenkamp toe dit gebeur het?

George ·

Hoeveel meer is nie op daai grond begrawe nie. Dalk tyd dat die polisie bietjie GPR uitoefen daar.

George ·

Charles, moord hoef nie voorafbeplan te wees nie. As jy iemand stamp op hoogte terwyl daar werk toegepas word, is dit nie nalatig nie, dit is duidelik doel om te moor.

Danie ·

Twyfel od die reaksie dieselfde sou gewees het indien die einste Mayenda daarin kon slaag om Steenkamp te vermoor, nogal oor sy salaris…

George ·

Wys my waar Mayenda hom wou moor? Want volgens al die berigte was hy nie die aggressor nie. Maar wel Steenkamp. Maak ons dieselfde aanname van mnr Isak?

AH ·

Dit kom my voor asof hier baie meer aandag aan hierdie spesifieke geval gegee word as aan die byna weeklikse plaasmoorde. Kan nie anders as om te wonder hoekom nie…….

Oom Charles ·

George, ek het slegs op hpven se teorie van beroepsveiligheid gereageer, gladnie op iemand wat ‘n ander van steiers of lere of geboue afstamp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.