Moordverdagte by hof in hegtenis geneem

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

ʼn Man is Woensdag by die Johannesburgse landdroshof op aanklag van moord in hegtenis geneem toe hy vir ʼn onverwante aanklag van aanranding in dié hof verskyn het.

Volgens kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het die verdagte (37) gister in die hof verskyn vir die beweerde aanranding van sy eks-meisie (33) toe hy omstreeks 14:00 vir ʼn klag van moord teen hom in hegtenis geneem is.

Daar word beweer dat die verdagte en dié se vriende in Februarie vanjaar twee mans tussen 22 en 26 jaar oud aangerand het. Een van die mans het later aan sy beserings beswyk.

Mbele verduidelik dat die twee mans op 8 Februarie omstreeks 23:00 saam met ʼn groep vriende gestap het toe hulle ʼn wit BMW X6-voertuig op die hoek van Carr- en Mirriam Makeba‑straat in Newtown sien stilhou het.

Ses mans het na bewering vuurwapens op die groep vriende gerig. Dié twee het probeer weghardloop, maar die verdagtes het hulle ingehaal en gevang.

Mbele sê die twee mans is in die kattebak ingeboender en na die hoek van Gwigwi Mrwebi-en Gerald Sekoto‑straat geneem en ernstig aangerand.

“ʼn Goeie samaritaan het die ambulans gebel en hulle is na ʼn hospitaal geneem,” het Mbele gesê. Een van die mans, Morena Monethi (22), is die volgende dag dood.

Die aanranding van die twee mans is op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgelê en die verdagte kon só vasgetrek word. Sy vyf makkers is egter nog op vrye voet.

Die verdagte sal na verwagting môre in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.