Moordverdagte glo aan nog moorde verbind

Zaheera Boomgaard. (Foto: Facebook)

Zaheera Boomgaard, die vrou wat na bewering verbind word aan die verdwyning of dood van soveel as sewe mense in sowat twintig jaar, verskyn Maandag weer in die streekhof in Vereeniging waar sy waarskynlik om borgtog sal aansoek doen.

Boomgaard is vroeër die maand by haar woonstel in Randburg in hegtenis geneem en is reeds van twee moorde, twee ontvoerings, twee sake van bedrog en een van motordiefstal aangekla.

Een van die moordklagtes hou verband met die dood van die 71-jarige Harkant Nathvani, ʼn Britse burger wat op 22 Februarie vanjaar die laaste keer gesien is toe hy ʼn bus van Parkstasie in Johannesburg na Newcastle gehaal het om ʼn vriendin te gaan ontmoet. Sy verbrande liggaam is gevind nog voor sy dogter in Engeland hom as vermis aangemeld het en hy is later aan sy tande uitgeken.

Die tweede moord waarby Boomgaard betrek word, is dié van haar beste vriendin, Lynette Mustapha, wie se liggaam in Augustus in Walkerville gevind is. Mustapha kon aan haar vingerafdrukke uitgeken word.

Die verdwyning van die 83-jarige John Naisby in 2012 word ook aan Boomgaard verbind. Hy is nooit weer gesien na hy uit Kaapstad vir haar in Johannesburg gaan kuier het nie. Sy was destyds as Zaheera Wookey bekend en is later weens bedrog met Naisby se bankkaarte tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis. Wookey het in die hof beweer dat hy die bankkaarte vir haar gegee het om te gebruik.

Naisby se stiefdogter, Alida Heine, sê hy het net op ʼn dag aangekondig dat hy vir ʼn vrou wat hy op Facebook ontmoet het gaan kuier. “Dit was absoluut strydig met sy karakter, maar hy het medikasie gebruik en ek dink hy was nie by sy volle positiewe nie.”

Sy en haar ma, Sinie, het besef daar is fout toe groot bedrae geld uit Naisby se bankrekening onttrek word kort na hy in Johannesburg aangekom het. ʼn Boodskap van die bank waarin toestemming gevra is om ʼn belegging te kanselleer was die laaste strooi en haar ma het hom toe as vermis by die polisie aangegee.

Die speurders het tydens hul ondersoek passievolle boodskappe tussen Naisby en Wookey op sy rekenaar gevind en by die OR Tambo-lughawe het sekuriteitskameras gewys dat Wookey saam met Naisby uit die gebou gestap het. Sy is uiteindelik slegs van bedrog aangekla want sy het beweer dat sy Naisby by ʼn winkelsentrum afgelaai het waar hy iemand anders sou ontmoet.

“Die hele besigheid was ʼn groot skok vir my ma,” sê Heine. “Sy het demensie gekry en vinnig agteruit gegaan; vandag kan sy nie eers meer praat nie.”

Naisby is in 2013 met die veronderstelling dat hy dood is so verklaar, maar Heine sê haar ma het nooit afsluiting gekry nie omdat niemand kon sê wat met Naisby gebeur het nie.

Die Independent Online het na aanleiding van Naisby se verdwyning in 2012 berig dat vier mans dood is wat voorheen met Zaheera Wookey deurmekaar was. Maroela Media het op die geslagsregister webwerf Gendatabase.com vasgestel dat Wookey alias Boomgaard in 1982 met Saban Boomgaard getroud is. Sy was 21 jaar oud en het destyds die van Rajkumar gebruik. Saban is in 1998 dood aan wat beskryf word as “onnatuurlike oorsake”. Sy dood word na bewering tans weer deur die polisie ondersoek.

Nog een van haar vorige mans is glo in 2010 ook onder geheimsinnige omstandighede in die Sunninghill-hospitaal dood, waarskynlik weens vergiftiging. Die uitslag van die toksikologieverslag was nog nie bekend toe die polisie Wookey in 2012 oor Naisby se verdwyning ondervra en van bedrog aangekla het nie.

Navorsing op die internet wys dat die man na wie in die berig verwys word Andrew Eric Wookey is. Volgens ʼn plasing in die  Staatskoerant van 9 November 2012 was Zaheera Wookey die eksekutrise van sy boedel.

Maroela Media het Andrew Wookey se vorige vrou opgespoor en sy vertel dat hy ses maande na hul egskeiding met Zaheera getroud is. Dae voor sy dood het hy sy vorige vrou uit die hospitaal gebel en gesê dat hy hepatitis A onder lede het.

Wookey, oftewel Boomgaard, se inhegtenisneming twee weke gelede het die inwoners van die woonstelkompleks waar sy sedert verlede jaar gewoon het geweldig geskok. Sy het vir almal vertel dat sy ʼn afgetrede mediese dokter is wat steeds snags iewers diens doen en daarom bedags moes slaap. Sy was veral bekend vir die eksotiese Indiese kos wat sy gemaak en aan die inwoners verkoop het.

Haar buurvrou, Rinie Uys, met wie Boomgaard sedert Januarie ʼn hegte vriendskap aangeknoop het, is veral erg gefolter deur die besef dat haar vriendin ʼn uiters donker verlede het en dat hul vriendskap waarskynlik op leuens gebou was. Erger nog is die gedagte dat sy moontlik Boomgaard se volgende slagoffer kon wees.

“Die polisie het dit vir my gesê en ek besef dit nou ook,” sê Uys wat 33 jaar in diens van Eskom was voor haar aftrede in 2012. “Zaheera het vir my hope en hope kos aangedra en vandag weet ek dit kon haar manier gewees het om na aan my te kom want ons het baie close geraak. Ons was gereeld laataand bymekaar en daar was altyd tee en hot chocolate en broodjies.”

Sy sê in Boomgaard se woonstel was oral boeke met Christelike dagstukkies en dat sy graag van haar plot by Walkerville vertel het wat sy glo aan ʼn kinderhuis geskenk het. “Onthou, vir my was sy hierdie wonderlike vrou met wie ek fantasties oor die weg gekom het. Sy het gewys sy het geld, sy was altyd goed geklee en haar hare was pragtig gesny.”

Uys sê die laaste twee weke was moeilik. “My hele liggaam het soms gebewe, ek was in ʼn slegte toestand gewees en moes medikasie neem. Vir my is sy nou dood, sy bestaan nie meer nie. Ek het gerou oor ʼn vriendin wat dood is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tanniepetoors ·

Die vrou is sielsiek! Verwyder permanent uit die samelewing so gou moontlik. Permanent asseblief.

JohanR ·

Selfs gaan sy lewenslank tronk toe Tanniepetoors sal daar ‘n paar manne wees wat vir haar sal skryf in die tronk, en self een of twee wat met haar in die tronk wil trou. Lyk my die mensdom hou maar van “dangerous” of dit nou ‘n man of vrou in die tronk is!

Gemaskerde Sopbeen ·

Mensdom wat ‘n afgryslike vrou (as sy skuldig is natuurlik). Maar, moet byvoeg alles klink baie verdag. Gaan die een beslis volg.

Politikus ·

Sjoe, dis ‘n verligting om te hoor dat nie net mans geweldenaars is nie

Elsabe ·

Ek lees net die eerste twee paragrawe… Nee wragtag. Nee, o hel. Hoe het sy weggekom vir sovele jare? Ek dink as jy na ‘n jaar of twee dink jy kom weg met moord, is die volgende gedagte al ‘n baba.

Kruger ·

Kry ek bang net vir daai gesig…reeks moordenaars kom oral voor…

Nico ·

No wil sy aansoek vir borg, sy is nie geskik om borg te kry nie, weereens word geld gemors, bevind haar skuldig en laat sy haar vonnis uitdien sy is ‘n gevaar vir die samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.