Moordverdagte in hegtenis ná skietery met polisie

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

ʼn Man is ná ʼn skietery met die polisie in KwaZulu-Natal aangekeer. Hy is gesoek in die verband met die moord op vier taxipassasiers wat Sondag by Cacaneni, naby Ekombe, doodgeskiet is. Nog ʼn passasier is gewond. Altesaam 13 mense was in die taxi.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het Sondag leidrade opgevolg oor die verdagtes wat vermoedelik by dié skietery betrokke was. Hulle voertuig is in Babanango opgemerk.

“Terwyl hulle die verdagtes genader het, is die polisie deur ʼn koeëlreën begroet en ʼn skietery het uitgebreek. Tydens die skietery het die polisie ʼn 40-jarige verdagte aangekeer,” het Mbele gesê.

“Die verdagte was in besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.”

Volgens Mbele het die polisie ook beslag gelê op die voertuig. Twee ander verdagtes is steeds op vrye voet.

Die man wat in hegtenis geneem is, verskyn na verwagting later vandag in die Babanango-landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook moord en poging tot moord.

Die KwaZulu-Natalse polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, het die ondersoekspan vir die spoedige inhegtenisnemings geloof.

“Ek is vol vertroue dat die ander verdagtes binnekort aangekeer sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.