Moordverdagte in hospitaal opgespoor

Argieffoto: http://www.jameschesley.com/

ʼn Vermeende moordenaar wat die afgelope naweek tydens ʼn huisrooftog gewond is maar daarin kon slaag om van die toneel te vlug, is in ʼn hospitaal in Durban opgespoor.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het bewyse en inligting van die publiek gebruik om ʼn profiel van die verdagte saam te stel en kon só daarin slaag om hom in die hospitaal op te spoor. Hy is vroeër met skietwonde in die hospitaal opgeneem. Die verdagte is aangekla en word nou onder polisiebewaking in die hospitaal behandel.

Op 12 Januarie omstreeks 02:00 was Raphael Dube by sy huis in Welbedacht-Wes in Chatsworth toe hy deur twee gewapende mans oorval is. Die mans het toegang deur ʼn venster verkry en het geëis dat Dube geld aan hulle oorhandig. Toe Dube om hulp roep, het die mans hom doodgeskiet. Hulle het met ʼn onbevestigde bedrag kontant op die vlug geslaan.

“Terwyl hulle besig was om van die toneel te vlug, het hulle glo ʼn omstander in die maag geskiet en hy het teruggeskiet. Een van die rowers is gewond, maar albei het daarin geslaag om te voet te vlug,” sê Mbele.

ʼn Saak van onder meer moord en huisroof is by die Chatsworth-polisiestasie aanhangig gemaak en speurders het dadelik begin om na die verdagtes te soek.

“By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die 22-jarige wat tans in die hospitaal is, ook deur die Greenwood Park-polisie gesoek word in verband met die moord op ʼn veiligheidswag verlede maand,” sê Mbele.

Die verdagte sal in die Chatsworth-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos ·

Ek was nie daar nie so ek weet nie wat gebeur het nie, maar as die verdagte gewond was, was daar sekerlik bloed op die toneel? Dan begin jy mos in die hospitale soek na hom, veral dat die skietery en die hospitaal beide in Durban is. Nie regtig ‘n groot prestasie om hom 5 dae later te kry nie.
Kwalifiseer ek nou ‘n ‘n generaalspos in die SAPS?

SANDRA ·

So word ons belastingbetalers se geld op gemors vermors. gee hom liewer ‘n lang inspuiting in plaas van om hom te behandel om dan ‘n koningklike lewe in die gevangenis te geniet, en dit, nadat hy 2 mense doelloos afgemaai het.

Blondie ·

Is die hospitale en dokters dan nie veronderstel om skietwonde dadelik aan te meld by die polisie nie ?

madels ·

Vra ek ook?? Die drs wat hom behandel het moet ook aangekla word want hulle is medepligtiges omdat hulle n krimineel beskerm het en tjoepstil gebly het.

Maljan ·

2:00 en daar was omstandsers? Was die gewonde omstander ook vir enigeiets van poging tot moord tot afvuur van n vuurwapen in n beboude gebied en enige iets tussenin aangekla?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.