Moordverdagte se broer óók van moord aangekla

Zaheera Boomgaard.

Zaheera Boomgaard, die vrou wat verdink word van die moord en verdwyning van minstens sewe mense die afgelope 20 jaar, se broer staan tans ook tereg op ʼn onverwante klag van moord.

Prem Basdeo word aangekla van die moord op sy vrou, Dawn, wat in 2018 spoorloos verdwyn het. Haar liggaam is nooit gevind nie. Basdeo se verhoor word teen die einde van November in die hooggeregshof in Pretoria hervat nadat dit vroeër weens Covid-19 uitgestel is. Hy is in November 2018 op borgtog van R50 000 vrygelaat.

In nog ʼn skokkende onthulling het Maroela Media vasgestel dat Boomgaard en Basdeo se ouer broer, Amichand Basdeo, in 1980 weens moord gehang is. Hy was 24 jaar oud en was voorheen ʼn polisieman en is tydens sy opleiding as die topstudent aangewys.

Prem Basdeo se eerste vrou, Neetha, is ook aan onnatuurlike oorsake dood. IOL het in November 2004 berig dat Basdeo en sy seun, Jordan, destyds vrygespreek is van Neetha se moord. Haar liggaam is in 2000 met ʼn kopskoot in ʼn skeepsvraghouer in Phoenix, Durban, gevind waar die Basdeos tydelik gewoon het terwyl hul huis opgeknap is.

Die staat het beweer dat Basdeo sy en Neetha se seun, wat ten tye van die moord 14 jaar oud was, opgesteek het om die moord te pleeg. Volgens die berig het Prem se jonger broer, Vinesh Basdeo, destyds ʼn beëdigde verklaring oor die twee se betrokkenheid by die moord afgelê.

In kruisondervraging tydens die destydse hofsaak het Prem se advokaat Vinesh daarvan beskuldig dat hy ʼn donker familiegeheim gebruik het om sy ma en suster te manipuleer om ook teen Prem in die saak te getuig. Die bewering was dat Vinesh ʼn houvas op hulle gehad het omdat hy geweet het van ʼn baba wat die suster, die einste Zaheera Boomgaard, op die ouderdom van 15 jaar gehad het.

“Jy is vertel dat jou ma die baba doodgemaak het, lewendig begrawe het. Jy het daardie kennis gebruik om jou ma en Boomgaard onder druk te plaas om jou eie belang te dien,” het die advokaat aan Vinesh gesê. “Nooit nie,” was sy antwoord, maar Zaheera het haar verklaring onttrek en Prem en sy seun is onskuldig bevind.

Volgens die IOL-berig van 2004 het Vinesh ook tydens die hofsaak ontken dat hy ʼn obsessie met Prem se tweede vrou gehad het met wie hy voorheen in ʼn verhouding was. Die betrokke vrou was Dawn Basdeo van wie se moord Prem nou aangekla word.

Albei die broers was voorheen senior offisiere in die polisie, maar het later ander loopbane gevolg. Vinesh Basdeo het verlede week aan Maroela Media gesê Boomgaard is nie bloedfamilie nie en dat hy jare laas kontak met haar en sy broer, Prem, gehad het. Hy het met regsaksie gedreig as die media hom by die huidige sake betrek.

Dawn Basdeo. Foto: Facebook

Dawn Basdeo se dogters het deur hul woordvoerder en prokureur, Kate Llewellyn-Smith, laat weet dat hulle daarvan bewus is dat Amichand Basdeo gehang is, maar dat Prem Basdeo vir hul ma vertel het dat sy broer die doodstraf opgelê is omdat hy tydens apartheid met ʼn wit vrou uitgegaan het.

Boomgaard het intussen Vrydag weer in die Vereeniging-landdroshof verskyn en die saak is tot 1 Desember uitgestel wanneer sy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Sy is op 9 Oktober by haar woonstel in Randburg in hegtenis geneem en is reeds van twee moorde, twee ontvoerings, twee sake van bedrog en een van motordiefstal aangekla.

Maroela Media het voorheen berig dat die moordklagtes teen Boomgaard verband hou met die dood van haar vriendin, Lynette Mustapha, en Harkant Nathvani, ʼn Britse burger wat in Suid-Afrika gekuier het. Hul verbrande liggame is maande na mekaar in die omgewing van Walkerville, Gauteng, gevind waar Boomgaard voorheen gewoon het.

Die 71-jarige Nathvani kon slegs aan sy tande uitgeken word terwyl Mustapha se vingerafdrukke gebruik is om haar identiteit te bepaal.

Boomgaard word ook verbind aan die verdwyning van die 83-jarige John Naisby in 2012. Hy is nooit weer gesien na hy uit Kaapstad vir haar in Johannesburg gaan kuier het nie. Die twee het glo ʼn verhouding op Facebook aangeknoop.

Sy was destyds as Zaheera Wookey bekend en is in 2013 weens bedrog met Naisby se bankkaarte tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis. Sy het beweer dat hy die bankkaarte vir haar gegee het om te gebruik.

Boomgaard word nou daarvan aangekla dat sy Nathvani se bankkaart, paspoort, selfoon en bykans R68 000 van sy geld gesteel het. Die verdere klagtes het betrekking op sowat R2 200 wat uit Mustapha se bankrekening onttrek is sowel as die diefstal van haar bankkaart, motor en selfoon.

Die 59-jarige Boomgaard word na bewering ook ondersoek vir die dood van haar eerste man, Saban Boomgaard, wat in 1998 weens onnatuurlike oorsake gesterf het. Nog ʼn eggenoot, Andrew Wookey, is in 2010 onder geheimsinnige omstandighede in ʼn hospitaal dood.

Die polisie se multidissiplinêre span wat Boomgaard se beweerde misdade ondersoek, het ʼn beroep op die publiek gedoen om Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak as hulle verdere inligting het. Sy het voorheen ook glo die name Geetha Basdeo en Penny Basdeo gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Goeie genade ‘n hele familie wat net vermoor waar hulle kom! Siel siek verby ek’t nie woorde nie…

Sarel ·

Wow Gevaarlike familie…. i n watter land was die een broer gehang?

Riaana ·

Die familie is willer as die Wildtuin!!!! SJOE NOU ALS GEHOOR EN GESIEN!!!!

Niklaas ·

Wat ‘n vreeslike familie is hierdie spul nie? Daisy de Melker sou by gevaarlike Zaheera lesse kon neem

Elsabe ·

Genaaade. Ek lees net halfpad en het nie meer spasie in my brein vir al die info.

Tanniepetoors ·

Moordadige spulletjie. Iewers in die gene is iets vreeslik verkeerd

Onnie ·

Almal van hulle sou geweldige sielkundige probleme en psigopatiese neigings hê a.g.v. die wrede manier waar op haar Ma haar baba lewendig begrawe het, en die feit dat al die sibbes dit moes aanskou en aangaan asof niks gebeur het nie. Dit is hoe psigopate gevorm word – in hul kinderjare. Tragies en siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.