Moordverdagte se ma ook doodgeskiet

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Die ma van Rameez Patel, ʼn sakeman van Limpopo wat verdink word van die moord op sy vrou, is Dinsdagaand doodgeskiet.

Dit kom nadat Patel se pa in Augustus verlede jaar ook onder raaiselagtige omstandighede doodgeskiet is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Mahejeen Banu Patel (51) en haar huishulp was omstreeks 19:00 in haar huis in Nirvana in Polokwane toe ʼn gewapende verdagte op hulle losgebrand het. Patel is gewond en na ʼn hospitaal gehaas waar sy ʼn paar uur later gesterf het. Haar huishulp is ongedeerd.

“Die motief vir die moord is nie bekend nie aangesien daar niks uit die oorledene se huis gesteel is nie,” het Ngoepe gesê. Hy het enigiemand met meer inligting versoek om kapt. Lesiba Dikgale by 082 565 8566 te skakel.

Patel se seun, Rameez, staan tans tereg vir die moord op sy vrou, Fatima (29). Sy is op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana doodgeskiet. Rameez ontken dat hy enige aandeel in sy vrou se moord gehad het en beweer sy is tydens ʼn huisbraak vermoor. Die saak sal later vandeesmaand in die hooggeregshof in Polokwane hervat word.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet. Die polisie het destyds gesê Feroz is deur vier mans in ʼn grys Volkswagen agtervolg waarna ʼn jaagtog ontstaan het. Feroz het beheer oor sy motor verloor en teen ʼn heining gebots. Die verdagtes het uit hul motor gespring en hom doodgeskiet voordat hulle ʼn sak uit sy kattebak gehaal en verdwyn het.

Ngoepe het Woensdag bevestig niemand is nog in verband met Feroz se moord in hegtenis geneem nie.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.