Moordverdagte vas ná ‘saamrygeleentheid’ met polisie

Foto ter illustrasie. (Foto: SAPS Facebook)

ʼn Moordverdagte is Sondag in hegtenis geneem nadat hy niksvermoedend op die agterkant van ʼn speurder se bakkie gespring het, vermoedelik op soek na ʼn saamrygeleentheid.

Sers. Essie Esterhuyse, die speurder aan diens by die Kakamas-polisiestasie, is Sondagaand na ʼn moordtoneel ontbied toe ʼn onbekende man op die agterkant van sy bakkie gespring het. Die bakkie was nie ʼn gemerkte polisieviertuig nie.

In plaas daarvan om na die moordtoneel te ry het Esterhuyse die 32-jarige man na die polisiestasie geneem.

Volgens kapt. CJ Prins, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, het Esterhuyse bloed op die man se broek opgemerk en onraad vermoed. Hy het sy kollegas versoek om die man fyn dop te hou terwyl hy die moordtoneel ondersoek.

“Op die toneel is die lyk van ʼn 20-jarige vrou in ʼn veld naby die snelweg gevind. Die vrou is na bewering doodgeslaan en met ʼn skerp voorwerp gesteek,” het Prins gesê.

Nadat Esterhuyse verskeie getuies ondervra het, het dit aan die lig gekom dat die man wat op die agterkant van sy bakkie gespring het, moontlik die hoofverdagte in dié moord is.

Die verdagte, wat glo in ʼn verhouding met die oorledene was, is kort daarna in die polisiestasie in hegtenis geneem.

Die waarnemende distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, brig. Johny Besnaar, het Esterhuyse bedank vir sy paraatheid en ondersoekvaardighede wat gelei het tot die aanhouding en inhegtenisneming van die verdagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Herinner my aan die twee dommes wat die polisie van Hout Baai af deur Constantia gejaag het, en toe sien hoe die twee deur die hekke van Pollsmoor gevangenis jaag.

Phil

Slim vang sy baas, baie geluk Sers. Essie Esterhuizen vir jou oplettendheid en goeie speurwerk!

Aai

Wakker speurder gee hom ‘n Bells

Blomme

Pragtig… Met so wetstoepasser is daar hoop vir ons gebroke land.

SjN

Slim vang sy baas, lekker nuus.