Moordverdagte vas toe hy glo taxi wou kaap

Karl Reich (82) (Foto: Facebook)

ʼn Derde verdagte, ʼn 35-jarige man, in die saak van die moord op Karl Reich (82), is Donderdag in Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem ná hy glo ʼn taxibestuurder vroegoggend probeer kaap en die bestuurder geskiet het.

Ao Lynda Steyn, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het aan Maroela Media gesê die verdagte het toegeslaan toe die taxibestuurder uitgeklim het om ʼn hek toe te maak. “Hy het by die voertuig ingeklim, en toe die bestuurder in die voertuig teruggeklim het, het hy op die taxibestuurder geskiet en sy kop rakelings gemis.” Die bestuurder het vermoedelik vinnig gedink en in ʼn boom vasgejaag. Die voertuig is aan die kant van die passasier getref.

“Die verdagte is in die ongeluk beseer en het onder andere inwendige beserings opgedoen,” het Steyn bygevoeg. “Toe polisiebeamptes hom in hegtenis geneem het in verband met die kaping, het hulle bevind dat hy die man is wat deur die Valke gesoek word in verband met Reich se moord. Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.”

Die verdagte is glo in 2016 op parool vrygelaat ná hy in Desember 2010 in die Kaap gevonnis is oor poging tot roof met verswarende omstandighede toe hy op ʼn polisieman geskiet het.

Twee verdagtes, wat vroeër in hegtenis geneem is in verband met Reich se moord, Mojalefa Tseki (34) en Thanki Motseki (27), het intussen ook Donderdag in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklag van roof en moord. Die saak is tot 12 September uitgestel en hulle bly in aanhouding.

Reich is op die dag van sy verdwyning, op 24 September 2018, verwurg en sy liggaam is in die kattebak van een van sy voertuie na Pretoria vervoer waar dit naby die Fonteinedal in ʼn stormwatersloot op die N14 gelaat is. Die liggaam is reeds die dag ná die moord op 25 September gevind, maar is nooit geïdentifiseer nie en is dus deur die staat begrawe.

Reich het op raaiselagtige wyse by sy huis in Jim Fouchepark in Welkom verdwyn en hoewel plaaslike speurders alles in hulle vermoë gedoen het, is hy nie gevind nie. Reich se familie het die Bloemfonteinse privaat speurder, Leon Rossouw, aangestel en hy het kontak gemaak met die hoof van die Valke in Bloemfontein. Steyn is later na die saak oorgeplaas.

Steyn en Rossouw het oor die afgelope 15 jaar verskeie sake saam opgelos en die twee het onmiddellik aan die werk gespring en inligting gedeel. Hul ondersoek het daartoe gelei dat Tseki en Motseki aangekeer is.

Toe die twee verdagtes vir ondervraging ingebring is, het hulle binne enkele ure bes gegee en vertel waar hulle Reich se liggaam weggesteek het. Daar is toe vasgestel dat hy reeds die dag ná sy verdwyning deur ʼn verbyganger opgemerk is wat die polisie in kennis gestel het. Ongelukkig is die twee sake nooit verbind nie en die welaf Reich is in ʼn armmansgraf in Pretoria begrawe. Sy liggaam is daarna opgegrawe en aan sy familie oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Hoe op dees aarde laat ons land se onbekwame regstelsel toe dat geweldsmisdadigers op parool vry gelaat word?! Daar is mos al oor en oor bewys dat die gemors nie rehablteerbaar is nie!

Rina ·

Arme man ….. vermoor … gelos en dit vir sy persoonlike items. Hy was gou begrawe .. as n armlastige. Terwyl die media gegons het. Watse rol speel binnelandse sake met vingerafdrukke. SAPD moet mos ook fotos kry van persone wat verdwyn . Regtig kon die familie baie pyn gespaar het. ASB kan niks verbeter nie. NET agteruitgang elke tree

Rm ·

2 manne kry amper lewenslank oor hulle n man in n doodskis toemaak en dan loslaat, ongeskonde, maar n man wat moor en op polisie skiet loop binne 5 jaar en vermoor weer n keer, so hy het nie eers 5 jaar gesit nie, wonder of hy ooit in n tronk was, glo nie daar is n land wat n meer verdraaide regstelsel is hierdie piesang republiek het nie

GM ·

Dit gaan my verstand te bowe dat misdadigers so gou ‘te hulp gesnel’ word en hospitaal toe geneem word. Los hul dat hul ly soos hul slagoffers moes ly.

Von ·

Dankbaar vir die geregsdienaars wat wel die saak genoem en dit opgelos het…trots op julle

Leon ·

2010 gevonnis en hy loop nog steeds buite rond. Duidelik het hy pêlle in die regering. Hulle moet hom maar ‘n medalje gee want hy sal nooit die binnekant van ‘n tronk sien nie. Nie met ons regstelsel nie. Duidelik baat iemand hoog op by se rooftogte anders sal hy nie so lekker kon rondloop nie.

jakes ·

Welgedaan dat die skurk vasgetrek is. Daar loop egter nog duisende van hulle tussen ons rond wat daagliks mense vermoor in hierdie misdaadmekka van die wereld naamlik SA.

Ronel ·

Hopelik sal geregtigheid hier geskied, en nie soos in die geval van die moord op die oom van Kroonstad, sommer net so op borg vrygetlaat word nie!

Jonathan ·

Maak tog net seker dat die gemors nie ook “ontsnap” uit die hospitaal nie!

Pieter H ·

Lees mooi wie die opvolgwerk gedoen het wat tot inhegtenisname gelei het. Soos met alles raak kundiges al hoe minder. En dit lyk nie juis asof daar opvolgers wat iets wetd is sal wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.