Moordverdagte vas wat glo by polisie steel

boeie 2ʼn Man, wat gesoek word in verband met ʼn reeks misdade insluitend moord en kaping, is in hegtenis geneem nadat hy die polisie reeds sedert Julie ontduik het.

Een van die oortredings waarmee die man verbind word, is ʼn inbraak by die kantoor van die misdaadintelligensie-eenheid in Pietermaritzburg. ʼn Geweer en drie handwapens wat in ʼn kluis toegesluit was, is gesteel asook ander items wat in die kantoor gehou is vir veilige bewaring.

“Die polisie het die toneel gefynkam vir bewyse en vingerafdrukke geneem,” het die polisie in ʼn verklaring bevestig. “Dié vingerafdrukke het tot ʼn verdagte gelei en die man is verbind met ʼn aantal sake insluitend moord, kaping, huisbraak en diefstal. Beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid het onverpoosd gewerk en al die hulpbronne gebruik om meer inligting te bekom oor waar die man homself bevind.”

Die verdagte het glo gereeld tussen stede rondbeweeg om die polisie te ontduik. “Die polisie het egter vandeesweek ʼn wenk ontvang en die man is Dinsdag in Howick in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.”

Die polisie het beslag gelê op die gesteelde geweer en drie handwapens.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul goeie werk. “Hul poging om die saak te ondersoek het ʼn positiewe bydrae gelewer om die verdagte aan te keer. Baie dankie aan die gemeenskap wat met die polisie saamgewerk het om misdaad te bekamp,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

En hy haal letterlik die wapens uit die kluis sonder probleme . . . wonderlik !!
Sou dit met my gebeur dan het ek GROOT probleme maar met die SAPD? GEEN probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.