Moordverdagte vra derde psigiatriese evaluasie

Gerhard Jansen van Vuuren het Dinsdag emosieloos in die hof gesit (Foto: Anja van der Merwe, Facebook)

Gerhard Jansen van Vuuren het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gevra om vir psigiatriese evaluasie gestuur te word.

Dié evaluasie sal bepaal of hy toerekeningsvatbaar was toe hy sy gewese meisie, Andrea Venter (25), sowat 11 jaar gelede vermoor het.

Jansen van Vuuren se verhoor het Dinsdag in die hooggeregshof begin. Hy het emosieloos en stil soos ’n standbeeld in die beskuldigdebank gesit.

Sy regsverteenwoordiger, Innocent Mthembu, het ’n aansoek ingedien om te vra dat Jansen van Vuuren deur ’n private psigiater geëvalueer moet word. Hy het aangevoer dat hy nie by sy volle verstand was toe hy Venter vermoor het nie, omdat hy steroïde gebruik het.

Jansen van Vuuren is reeds in 2012 deur twee psigiaters evalueer. Mthembu sê art. 78 en 79 van die Strafproseswet het destyds egter geëis het dat hy as moordverdagte deur drie psigiaters geëvalueer moes word, daarom dat hy nou nóg ʼn evaluasie aanvra. Die wet het egter in 2017 verander en vereis nou dat evaluasies deur slegs twee psigiaters voldoende is.

Die staatsaanklaer, adv. Makwena Mokwatedi, het ook aangevoer dat die verdediging se aansoek ’n onnodige vertraging van die saak sal veroorsaak.

“Die saak sloer reeds meer as tien jaar lank en die verdediging het meer as genoeg tyd gehad om só ʼn aansoek in te dien,” het Mokwatedi in die hof gesê.

Regter AJ Matjele het gevra dat die saak na Woensdag moet oorstaan, sodat hy ’n besluit oor die aansoek kan neem.

Die verhoor is verlede jaar reeds twee keer uitgestel.

Andrea se pa, Dries, en broer, Kobus, het Dinsdag hul teleurstelling oor die soveelste uitstel uitgespreek.

“Ons is teleurgesteld. Ons het gehoop die saak sou vandag begin sodat dit afgehandel kan word. Ons het reeds jare lank gewag vir hierdie dag,” het Kobus gesê.

“Elke hofsaak is soos ’n wond wat weer oopgekrap word,” het ’n emosionele Dries buite die hof aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Maryna ·

Dis tyd dat die man sy straf begin uitdien! Jy het haar vermoor, sluit hom toe en gooi die sleutel weg!

Richard ·

Hy is sonder enige twyfel skuldig. Hy moet tronk toe gaan en nooit weer uitkom nie.

Annelize ·

Hy speel vir tyd. Hy het verdomp GOED geweet wat hy gedoen het, ten tyde van die aanval, en so ook daarna. Was toerekenings vatbaar genoeg om met vervalsde dokumente daarna te vlug, vrou te vat in ‘n ander land en nog ‘n kind ook by haar te he, maar nie toerekeningsvatbaar om tereg te staan nie? SE VOET!!!!

Jy kan maar hier swaai en draai, maar daar is EEN plek waar jy nie gaan wegkom nie, en dis die dag wat jy voor God te staan gaan kom.

Renier ·

Hy kon slim genoeg dink om land uit te vlug met vervalste dokumente. Steroides is nie n verskoning,tronk toe met hom.

Aai ·

Blame it on the bunny so nou kan almal wat steroide gebruik nou geestelik versteer pleit?Nee my maat jy gaan lanlk sit.

Martie ·

Die blote feit dat hy wil gaan is genoeg om vir jou te vertel hy makeer absoluut niks, hy speel nou vir tyd om nie agter tralies te sit nie. Nee wat tronk toe.

Shakespeare ·

Psigiatriese probleme is die nuutste verskoning. Zuma kan dit ook gebruik.

Sandra ·

Almal wat iemand vermoor het vra vir sielkundige evaluasie. Hulle hou seker nie van die eerste 2 sielkundiges se evaluasie wat seker bewys dat hy na alles tog toerekeningsvatbaar was. Hoeveel maal moet die saak nog uitgestel word voor die arme meisiekind se familie geregtigheid vind.

Swerwer ·

Waarom tyd mors met nog ‘n 3de psigiatriese verslag. Wat was sy rede of doel om die mooie vrou so wreed te vermoor. Privaat psigiatriese verslae moet nie toegestaan word nie, hy moet toegesluit word en dan kan hul hom in die gevangenis psigiatries evalueer.

Chantel ·

Vir die 3de keer? REGTIG. Ek wonder net wanneer gaan die gereg besef hy SPEEL hulle.

Pablo ·

Elf jaar gelede. Genade geen wonder misdaad seëvier in die land nie.

Mariana ·

Nou was hy dan mal toe hy haar vermoor het of is dit nou maar weer net nog ‘n verdekselse kansvatter.

Roedolf Johannes ·

Lekker maak of jy mal is en kom weg met moord.Dit kos ons belasting betaler n klomp geld.As jy nie regshulp kan bekostig nie voorsien die staat

Blikkies ·

Die SA Strafreg se mos ‘ voluntary Intoxication’ is geen verskoning nie, tensy hy forseer was om die middel ‘ involuntarily’ in sy sisteem te kry? kan hy nog steeds in ‘n mate aanspreeklik gehou word. Met sy geskiedenis gaan hy sukkel om dit as ‘n verskoning te gebruik. Ek los dit eerder vir professionele regskenners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.