Moordverdagte wou ondersoekbeampte glo laat vermoor

Koos Strydom. Foto: Mia Spies/eNuus

Koos Strydom, die man wat op minstens drie aanklagte van moord teregstaan, het na bewering ʼn medegevangene geld aangebied om die ondersoekbeampte in een van die moordsake teen hom te vermoor.

Strydom staan tereg vir die moord op Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi in Noordwes in Desember 2017, asook die moord op Mandie Jansen van Rensburg in Junie 2014.

Adrian Nell, Strydom se regsverteenwoordiger in die saak rakende die moord op Jansen van Rensburg, het aan Maroela Media bevestig nóg ʼn aanklag is teen sy kliënt aanhangig gemaak. Dit nadat Strydom na bewering een van sy medegevangenes in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria ʼn groot bedrag geld aangebied het om AO Jannie van der Walt, die ondersoekbeampte in die saak oor Jansen van Rensburg se moord, te vermoor.

Die “huurmoordenaar” is verlede maand op parool vrygelaat en het toe glo die polisie van Strydom se beweerde planne ingelig.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van sameswering om ʼn misdaad te pleeg is aanhangig gemaak, maar hy wou geen verdere besonderhede oor die saak verskaf nie.

Nell sê egter Strydom het nog nie op dié aanklag voor ʼn hof verskyn nie. “Ek is nie seker of hy al amptelik aangekla is nie.”

Strydom sal op 7 September weer in die hof verskyn op aanklag van moord op Jansen van Rensburg. Hy sal na verwagting dan na die getuiebank geroep word om te getuig.

Strydom sal egter voor dan, op 16 Augustus, saam met vier ander beskuldigdes, weer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn in verband met die moord op die Van Niekerk-egpaar.

Die beskuldigdes in die saak oor die moord op Joey en Anisha van Niekerk in die hof. Foto: Mariné Lourens

Jansen van Rensburg is op 24 Junie 2014 doodgeskiet in wat aanvanklik as ʼn “plaasaanval” bestempel is. Die staat het vroeër aan die hof gesê dat Jansen van Rensburg ʼn deel van haar kleinhoewe aan Strydom sou verkoop en die twee het lewenspolisse ter waarde van R1,8 miljoen op die ander uitgeneem as sekuriteit. Strydom het gevolglik ná Jansen van Rensburg se dood die R1,8 miljoen ontvang.

Strydom staan saam met ʼn Mosambiekse man tereg op aanklag van moord. Die man se naam kan egter nie bekendgemaak word nie omdat hy op ʼn seksuele aanklag teregstaan in die ander moordsaak waarin Strydom ook aangekla word.

Strydom, Mercia Strydom (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers staan tereg vir die moord op Joey en Anisha wat in Desember 2017 spoorloos verdwyn het uit die huis waarin hulle op ʼn kleinhoewe in die Mooinooi-omgewing gewoon het.

Die staat beweer Koos was die baasbrein agter die moord en die motief was na bewering omdat hy die twee vroue se kleinhoewe wou bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sê maar net ·

Liewe land, maar hierdie man is arrogant. Hoeveel meer mense se lewens wil hy verwoes deur sy eie geweldadige, roekelose en belaglike optredes.

Lindtjies ·

En so begin sy geraamtes hom een na die ander inhaal. Het seker nie iets soos ‘n gewete nie.

Vra net ·

Ek wonder hoeveel vra hy om ‘n drieslaapkamer huis te spook? ;-)

GM ·

Nou gaan hy seker ‘n huurmoordenaar huur om die huurmoordenaar te laat vermoor wat op hom ge’split’ het.
Skrikwekkend dat daar so baie onstabiele siele daagliks rondom ons rondbeweeg.

lorita ·

Adrian Nell – hoe slaap jy snags terwyl jy so ‘n monster verdedig???

Blommie ·

Jorita kom ek help jou verstaan. Adrian nel is heelmoontlik wets beampte van legal aid (wat maar die staat is) ek het ‘n vriendin wat ‘n advokaat was vir legal aid. Sake word deur die staat aan hulle toegeken en hulle moet die verdediging doen want dis hulle werk. Dis nie sê hulle is vir die monsters nie. Party legal aid advokate walg vir dit wat hulle moet doen. Daarom het my vriendin weggegaan van legal aid af. Jy is reg hulle slaap sleg want die sake gee nagmerries.

Jason ·

Vries sy rekening hyt te veel geld om misdaad te organiseer vanuit n tronksel nogal!

Gert van Wierdapark ·

Moenie net sy rekening vries nie, vries hom ook in een van daai koelkamers – die man is n gevaar vir die same-en alleen-lewing!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.