Moordverhoor teen Polokwane-sakeman uitgestel

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Die moordverhoor van Rameez Patel, wat aangekla word van die moord op sy vrou en ook verdink word van die onlangse moord op sy ma, gaan eers volgende jaar hervat word.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder vir Limpopo, het gesê Patel se saak is Dinsdag in die Polokwane-hooggeregshof tot 22 Januarie uitgestel. Die saak is tot 26 Januarie op die hofrol geplaas.

Die verhoor is uitgestel aangesien regter Jospeh Raulinga nie beskikbaar was nie.

Patel is tans nog in aanhouding nadat hy op 30 September in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), by haar huis in Polokwane vroeër in September. Hy was toe uit op borgtog terwyl sy verhoor vir sy vrou, Fatima (28), se moord voortsleep.

Patel se ma was in haar huis in Nirvana toe ʼn gewapende verdagte op haar en haar huishulp losgebrand het.

Mahejeen is gewond en na ʼn hospitaal gehaas waar sy ʼn paar uur later gesterf het. Haar huishulp is ongedeerd. Niks is uit Mahejeen se huis geroof nie en die polisie het gesê die motief vir die aanval is onbekend. Sy borgtogaansoek in die saak word volgende week in die Polokwane-landdroshof hervat.

Maroela Media het vroeër berig Fatima is op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana verwurg en doodgeskiet. Rameez, wat borgtog toegestaan is, ontken dat hy enige aandeel in sy vrou se moord gehad het en beweer sy is tydens ʼn huisbraak vermoor.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in sy motor doodgeskiet. Die polisie het destyds gesê Feroz is deur vier mans in ʼn grys Volkswagen agtervolg waarna ʼn jaagtog ontstaan het. Feroz het beheer oor sy motor verloor en teen ʼn heining gebots. Die verdagtes het uit hul motor gespring en hom doodgeskiet voordat hulle ʼn sak uit sy kattebak gehaal en verdwyn het. Niemand is nog in verband met dié moord in hegtenis geneem nie.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.