Moot-hondeaanval: ‘Onder omstandighede gaan dit goed’

Tom Chapman. Foto: Verskaf

Oudsupt. Tom Chapman (74) word steeds in die waakeenheid van ʼn Pretoriase hospitaal behandel nadat ʼn buurman se twee honde hom Maandagoggend buite sy huis aangeval en verskeur het.

Chapman, wat jare lank verbonde was aan die Pretoria-stadsraad se elektriese afdeling en wat nou saam met sy vrou, Francis (72), in Parktown Estate in die Moot woon, moes Maandagoggend, half verlam, verwoed veg om die honde met sy werkende hand van sy gesig af weg te hou.

Die honde, van gemengde rasse, het vermoedelik uit ʼn omliggende buurman se erf ontsnap deur op bourommel te klouter en toe oor ʼn muur te spring.

Champan het in 2005 ʼn beroerte gehad wat die linkerkant van sy lyf verlam gelaat het. Ná jare se rehabilitasie kon hy weer begin loop, maar sukkel nog met sy balans en die honde het hom maklik omgespring en aan albei sy arms en bene gebyt.

Phillip Snyders, koster van die NG gemeente Mootvallei, het tot Chapman se redding gekom deur die honde met ʼn tuingraaf te verjaag en van Chapman af weg te hou terwyl mense noodhulp op Chapman toegepas het. Snyders is ook erg beseer toe die honde hom aan die been beetgekry het. ʼn Motoris, Marchel Nienaber, het ook stilgehou om help en is ook gebyt.

Chapman is na die Eugène Marais-hospitaal gehaas en Snyders moes ook hospitaalbehandeling ontvang.

Lana Odendaal, Chapman se dogter, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed met haar pa.

“Hy is steeds in die waakeenheid en is op sterk pynmedikasie. Die dokter se grootste bekommernis is dat sy wonde infeksie kry. Sy wonde is nog nie toegewerk nie omdat hy daagliks in die teater moet ingaan sodat dit goed skoongemaak kan word, waarna die wonde weer toegebind word,” het Odendaal gesê.

Sy het gesê die wonde aan Chapman se linkerbeen is die ergste waar daar op drie plekke vleis van die been afgeruk is.

Dit is nog te vroeg om te bepaal of Chapman permanente skade opgedoen het, hoewel sy vrou vermoed dat, veral ná die beroerte, hy nou permanent van ʼn rolstoel afhanklik gaan wees.

Chapman word in die hospitaal deur sy vrou, vier kinders, hul eggenote en nege kleinkinders bygestaan.

Intussen het die honde se eienaar, ʼn dokter van Nigerië, met Francis in verbinding getree. “Hy het my ma gebel en verskoning gevra en gesê hy is regtig jammer oor wat gebeur het. Hy het ook onderneem om te help met enige onkoste. Hy het regtig opreg voorgekom en ook die bourommel op sy erf verwyder,” het Odendaal gesê.

Elmarie Linde, die DA-raadslid in wie se wyk die voorval plaasgevind het, het ʼn formele klag by die stadsraad aanhangig gemaak sodat owerhede kan bepaal of enige munisipale bepalings oortree is.

Tom en Francis Chapman. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lee ·

Sterkte vir die Oom hoop hy word sommer gou gesond en is weer gou-gou op die been. Sal vir hom bid vir beterskap xx

Johann ·

Ek het, en ek sê dit weer, die tiepe honde gebruik niemand vir troeteldiere nie, nie onderhandelbaar nie.

Tiger ·

Johann ek sal graag wil weet watse tipe honde dit was.Die berig meld net hulle was van “gemengde rasse”.Hoe dit ookal sy , daai honde moet vankant gemaak word deur die DBV ongeag die eienaar se simpatieke gesingheid want hulle gaan WEER iemand aanval.

tokkie le roux ·

Baie sterkte vir Oom en die hele familie. My oorlede man is 5 jaar terug deur 3 boerboele aangeval so ek het begrip. Dra Oom op in my gebede.

SARIE VAN HEERDEN ·

Tiger, jy hoef nie te weet WATSE honderas of gemengde ras dit was nie. Dit gaan alles oor die MANIER wat hul grootgemaak is. Mense koop nie waghonde asof dit ‘n potplant moet wees nie, maar dan moet jy die verantwoordelikheid he om die honde te kan beheer EN om buitestaanders teen hul te beskerm. Die dae van waghonde aan te hou is verby want terwyl jy salig sit en tv kyk vergiftig of skiet hul jou hond. Honde moet net aangehou word vir hul liefdevolle teenwoordigheid en dan beveilig jy jou huis deur alarmstelsels, kamera’s binne en buite, en waarskuwingsligte rondom jou huis. Hierdie items eet ook nie duur hondekos en meegaande veeartskostes nie.

Jammer ·

Dit was mos nou nie opsetlik nie. Ongelukke gebeur. Daardie man het opreg onverskoning gaan vra. Dit spreek boekdele van ‘n opgevoede persoon. Baie sterkte oom, spoedige beterskap. Ons is jammer oor die ongeluk wat oor u pad gekom het, mag dit omgedraai word in baie meer seëninge as ooit te vore.

SARIE VAN HEERDEN ·

JAMMER, Ek is bly jy ken hierdie Nigeriese dokter so goed dat jy weet hy het opreg om verskoning gevra. Daardie dokter moet dalk ingelig word dat die versekering wat hy vir sy eiendom (huisinhoud, ens) het het ook ‘n baie groot bedrag wat voorsiening maak vir skade wat die eienaar van die honde aanrig, gedek word. Hy moet net na die ou oom se vrou gaan dat sy die saak by die polisie aanmeld en dan sal die baie jammer buurman sy versekering kontak om die oom se dokterskoste te dek. Vind by Outsurance uit hieroor. Hondebyte kan ‘n lang herstelperiode he en agterna waarskynlik ook anderrehabilitasie aan die oom.

Francie ·

‘n Paar jaar terug is ek deur my hond gebyt (hy was besig om te verwurg en my arm was in die pad – ‘n
blote ongeluk ). My man het die hond gaan versorg en ons voorman het die remvloeistof gaan haal. Ons is nie naby aan ‘n hospitaal nie, en op ‘n plaas gebruik ons soms ongewone noodhulpmiddels. Hulle het in elke bytplek ( op een plek was selfs ‘n stukkie been gekraak) ‘n ruim hoeveelheid remvloeistof gegooi. Die plaaslike kliniek het my arm toegemaak met ‘n sg. ‘nat’ verband en ons is na ‘n hospitaal in Pretoria. Ek is die volgende oggend teater toe en omdat ek nie self seker was wat onder die verbande aangaan na die ongewone noodbehandeling nie, het ek dit vir die dokters genoem. Hullw was heel ontsteld daaroor, om die minste te sê. Dit was die Vrydagoggend en die wond is weer net oppervlakkig verbind. Die Dinsdagoggend is alles eers toegewerk en ek is huistoe. Ses weke later is die verbande en ‘clips’ verwyder. Die wonde was 100% genees. Ja, dit was pynlik, en ek moes terapie kry om volle beheer van my hand en vingers te kry. Remvloeistof bly steeds ons nommer een middel om stukkende plekke te behandel. Dit was ook nog nie weer nodig om ‘n hond se byt te behandel nie.

Maida Keese ·

Ons as kinders/eggenote en kleinkinders wil uit ons harte uit dankie sê vir Oom Phillip wat my pa te hulp gesnel het – en ook self deurgeloop het onder die twee honde. Ons gebede is ook saam met hom en sy familie in hierdie moeilike tyd en die tyd van herstel wat voorlê. Daar loop werklik engele tussen ons op aarde en hierdie Oom is een. Nogmals BAIE dankie.

Christa Smit ·

Sterkte oom Tom ek dink aan jou en bid vir vinnige herstel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.