Moot-moord: Familielid in hof

Stpehanus Jakobus Visser

Stephanus Jakobus Visser

Die familielid wat in hegtenis geneem is enkele ure ná die moord op Elsabe van Niekerk (55), het Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Stephanus Jakobus Visser (28) het vlugtig in die hof verskyn en die staat en verdediging het ooreengekom dat die saak tot 21 April uitgestel word vir verdere ondersoek. Hy sal dan amptelik om borgtog aansoek doen. Die staat het aangedui dat hy borgtog sal teenstaan.

Visser is die eksman van Van Niekerk se dogter, Leandri Visser. Hulle het twee kinders. Die staat het aangevoer dat die beskuldigde Sondag in ʼn rusie met Van Niekerk se man, Dirk, betrokke was oor die kinders. Die beskuldigde het toe glo Maandag na die huis in 8ste Laan in Gezina gegaan waar hy ook in ʼn rusie met Van Niekerk was en haar glo met ‘n mes doodgesteek het.

Visser in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Visser in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die verdagte het glo na die huis van sy nuwe vriendin se ouma in die Rietondale/Queenswood-omgewing gevlug waar hy Maandag omstreeks 17:15 in hegtenis geneem is, enkele ure ná die moord op Van Niekerk.

Hooflanddros Desmond Nair het die uitstel toegestaan.

Konst. Tumisang Moloto, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê daar is ʼn bebloede mes op die toneel gevind en dat dit vermoedelik die moordwapen is.

Van Niekerk het as pastoor gewerk by die Herlewingslig-sentrum in Zandfontein en was ook ‘n omroeper op Rainbow Gospel Radio. Sy laat haar man, Dirk, twee kinders, Leandri (29) en Benjy (20), en twee kleinkinders, Juan (5) en Micayla (3), agter.

Lees alle vorige berigte oor Elsabe van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.