Moot-moord: Skoonseun weer in hof

Stefan Visser tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29), wat verdink word van die moord op sy skoonma, pastoor Elsabe van Niekerk (55) van Pretoria se Moot-gebied, het Dinsdag vir die eerste keer weer in die Pretoria-landdroshof verskyn nadat sy borgtogaansoek in Junie van die hand gewys is.

Visser het vlugtig verskyn, waarna die moordverhoor uitgestel is, aangesien uitslae van DNS-bewyse nog nie gereed is nie. Die saak word weer op 21 September hervat.

Maroela Media het vroeër berig Visser en Van Niekerk se dogter, Leandri, was besig om te skei, toe die moord op 11 April in Gezina plaasgevind het. Visser het tydens sy borgaansoek beweer sy skoonouers het in hul huwelik ingemeng en hom weerhou daarvan om sy twee kinders te sien.

Elsabe van Niekerk. Foto: Facebook

Elsabe van Niekerk. Foto: Facebook

Van Niekerk is by haar broer se werkswinkel vermoor nadat sy en Visser glo ʼn argument oor die kinders gehad het. Visser beweer hy het “geknak” toe Van Niekerk op hom gegil en hom gestamp het, waarna hy nie meer kan onthou wat gebeur het totdat hy later dieselfde dag by sy vriendin se ouma se huis in Rietondale in hegtenis geneem is nie.

Van Niekerk is 31 keer met ʼn mes gesteek en vier keer gesny. Die staat voer aan die moordwapen is Visser se vuisyster.

Hy het op 14 April vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklag van moord met voorbedagte rade, wat ʼn skedule 6-misdryf is. Sy borgtogaansoek is op 13 Junie van die hand gewys.

Landdros Kiru Pillay het in haar uitspraak gesê die waarskynlikheid bestaan dat die res van die gesin se lewens in gevaar is. Dit volg nadat Visser glo tydens ʼn vorige geleentheid aan sy skoonma gesê het hy gaan haar, haar man, sy vrou en hul kinders om die lewe bring, waarna hy selfmoord gaan pleeg. “Hy het klaar die eerste gedeelte van dié dreigement uitgevoer,” het sy toe gesê.

Sy het voorts gesê Visser het nie tydens die aansoek aangedui dat hy onskuldig is nie, maar net dat hy geheueverlies omtrent die voorval het. “Die bewering dat hy nie kan onthou nie, is slegs deur sy verdediging aangevoer. Dit is nie feitelik bewys nie. Daar is egter bewyse dat hy ʼn balaklawa aangehad het om te probeer om sy identiteit weg te steek. Hy het ook gevlug en probeer jok deur te sê daar was ʼn inbraak waarby vier swart mans in ʼn rooi VW Golf betrokke was en dit is onwaarskynlik dat hy tydelik waansinnig was. As dit wel die geval is, hou dit ook ʼn gevaar vir die publiek in as hy vrygelaat word, aangesien ʼn mens nie weet wat dié gemoedstoestand by hom veroorsaak nie.”

Visser bly in aanhouding by die Kgosi Mampuru-gevangenis.

Lees die vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pietie ·

Toevallig weet meer mense dat hierdie geweldenaar onteenseglik moord gepleeg het met voorbedagte rade-daar is dan selfs volgens getuies ‘n selfoon-video-opname van die moord! Hoe is dit hoegenaamd moontlik dat stellings soos “verdink word van moord”, ens. gemaak kan word? En hoe kan so ‘n persoon se toerekeningsvatbaarheid enigsins bevraagteken word deur sy regsverteenwoordigers as dat hy hom beroep op “geheueverlies” of “tydelike waansinnigheid”? ‘n Ouma en moeder is wreed deur ‘n onmenslike wandaad uit die lewe geruk-die moeder en kinders leef seker in daaglikse vrees en met erge trauma oor wat gebeur het! Waar kom DNA-toetse in selfs nadat die man al klaar erken het hy het die moord gepleeg? Hierdie verskriklike moord het die hele Moot-gemeenskap geruk en die moordenaar verdien self niks minder as lewenslank nie-jammer doodstraf is nie ‘n opsie nie….

Cherokee ·

Dit Pietie, is ook waaraan ek gedink het toe ek Maroela se ‘wat verdink word van die moord op sy skoonma’ lees. Miskien het Maroela se berigskrywers ‘n probleem met woordgebruik want selfs wanneer geen name genoem word (in ander berigte) word die naamloses as ‘na bewering verdagtes’ beskryf. Hulle sal somtyds sê ‘die verdagte het hom geskiet’ en daardie soort van vreemde stellings.

Denise ·

Dit is wreed wat met so n lieflike mens gebeur het en sy flou verskoning dat sy op hom gegil het is pateties n ma baklei vir haar kinders en soms is dit met n geskree het die wreedaard al gesien hoe baklei n wilde dier vir haar kleintjies!!!

ja ne ·

Elke maand selfde berig
Nou dat sy n pastoor was is sy wonderlik?
Dalk was hy al jare lank gedryf na die daad toe. Dis wat die berig se. Maar dis altyd die persoon wat dood is. Wat onskuldig was.
Altyd soo
Mens kry nie slegte mense wat dood gaan nie
What a shame

noeka ·

ja ne, ja, sy was wonderlik. as jy haar geken het sou jy geweet het watse soort mens sy was.

Jy gaan nie uitkom uit die ding nie ·

Jy & jou regshulp kan maar probeer, jy sal moet bewys dat jy nie ‘n bewustheidsvlak gehad het nie, die teendeel is klaar bewys, jy het mooi geweet om spore te probeer doodvee en na jou nuwe meisie se mense te vlug, nogal heelwat vir ‘n ou met bewusheid probleme. Gelukkig is daar maatstawwe – verdomde swak prokureur met ‘n truuk probeer, dit is seker jou enigste moontlikheid, maar dit gaan nie werk nie. Seun jy moet maar op die harde manier leer dade het gevolge en jy moet verantwoordelikheid daarvoor vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.