Moot-moord: ‘Waarskynlikheid bestaan dat res van gesin in gevaar is’

Stefan Visser tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29), wat verdink word van die moord op sy skoonma, pastoor Elsabe van Niekerk (55), het Maandag emosieloos gestaan en luister toe landdros Kiru Pillay op die vierde dag van sy borgtogaansoek, wat op 6 Mei begin het, in die Pretoria-landdroshof haar uitspraak gelewer het.

Sy het gesê Visser, geklee in ʼn denim en blou sweetpakbaadjie, kon nie aan die hof bewys dat sy persoonlike omstandighede dit regverdig om op borgtog vrygelaat te word nie. Hy kon ook nie bewys dit is in die belang van geregtigheid nie.

“Die staat se bewyse dui aan dat dit moord met voorbedagte rade was,” het Pillay tydens haar uitspraak gesê. “Om iemand 31 keer met ʼn mes te steek en vier keer te sny dui daarop dat die graad van geweld erger is as ʼn normale moord. Dan is daar die verklaring oor die dreigement wat hy gemaak het wat sê hy gaan sy skoonouers, vrou, kinders en homself om die lewe bring. Hy het klaar die eerste deel van dié dreigement uitgevoer en die waarskynlikheid bestaan dat die res van die gesin se lewe in gevaar is.”

Sy het voorts gesê dat Visser nie tydens die aansoek aangedui het dat hy onskuldig is nie, maar net dat hy geheueverlies omtrent die voorval het. “Die bewering dat hy nie kan onthou nie is slegs deur sy verdediging aangevoer. Dit is nie feitlik bewys nie. Daar is egter bewyse dat hy ʼn balaklawa aangehad het om te probeer om sy identiteit weg te steek. Hy het ook gevlug en probeer jok deur te sê daar was ʼn inbraak waarby vier swart mans in ʼn rooi VW Golf by betrokke was, so dit is onwaarskynlik dat hy tydelik waansinnig was. As dit wel die geval is dat hy daaraan lei, hou dit ook ʼn gevaar vir die publiek in as hy vrygelaat word, aangesien ʼn mens nie weet wat dié gemoedstoestand by hom veroorsaak nie.”

Elsabe van Niekerk. Foto: Facebook

Elsabe van Niekerk. Foto: Facebook

Van Niekerk se man en dogter, Dirk van Niekerk en Leandri Visser, en Dirk se suster, Truia Cronjé, het dankbaar voorgekom toe hulle hoor hy is borgtog geweier. Visser se ma en sy swanger vriendin was ook in die hof en het geen emosie gewys nie.

Maroela Media het vroeër berig Visser en Leandri was in die proses om te skei toe die moord op 11 April in Gezina, in Pretoria se Moot-gebied, plaasgevind het. Die egpaar het twee kinders. Visser het tydens sy borgaansoek beweer sy skoonouers het in hul huwelik ingemeng en hom weerhou om sy kinders te sien.

Van Niekerk is by haar broer se werkswinkel vermoor nadat sy en Visser glo ʼn argument oor die kinders gehad het. Visser het beweer Van Niekerk het op hom gegil en hom gestamp, waarna hy nie meer kan onthou wat gebeur het totdat hy later dieselfde dag by sy vriendin se ouma se huis in Rietondale in hegtenis geneem is nie. Hy het op 14 April vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklag van moord met voorbedagte rade, wat ʼn skedule 6-misdryf is.

Die saak is tot 2 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Lees vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

bytjie ·

ek is so so bly hy het nie borgtog gekry nie danq Heer vir geregtigheid

Anoniem ·

Baie dankie dat nog `n gevaarlike persoon, agter tralies is. Mag hy lewenslank daar sit. Dankie aan die landdros en die staataanklaer wat hulle werk so goed doen,

Gesiggie ·

So… gewetenloos… geen berou”’ ek is so bly, hul het jou nie borgtog gegee, want ek stem saam… jy is n gevaar vir die res van die Familie”’ jy sal terug gaan om wraak te neem… jy is nog besig om te skei van jou x vrou en al klaar is die ander meisie swanger… meisie wie ookal jy is: maak n plan… jy kan nie jou ongebore baba en jouself toewy aan die man… jy verdien beter…en die feit dat jul geen emosies gewys het? tog so jammer, ek dink jul is seker so geskok, dat jul nie weet wat is wat… maar nuwe meisie… hoop dit was nou vir jou n eye opening …. dit is nog nie te laat…. terwille van jouself en jou baba.. .Aan Dirk en Leandri… sterkte , hou moed.. een van die dae is die man uit jul lewe…en kan jul probeer om die seer te verwerk…… net jammer dit moet ook weereens so lank vat…

So hartseer ·

Baie sterkte aan hierdie Pa en dogter en klein kinders en dan ook aan Visser se Ma, geen Ma verdien om in ‘n hof te stap om jou kind te ondersteun wat van Moord aangekla word nie. Aan die swanger meisie, o jinne dit was nie die slimste skuif nie, maar dit is nou klaar op pad. Ek kan nie dink dat die man so stupid ding aangevang het terwyl daar reeds 2 kinders en ‘n 3de op pad is nie.

Rissiepit ·

Hou SA se aanwasbedeling nog tred met die toenemende oortreders in vergeleke die Korrektiewe Dienste fasiliteite & rehabilitasiekostes?? Ons volk is in vlarde en wapper rond soos lee plastieksakke op die Kaapse Vlakte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.