Moot-tiener kritiek ná bakkie hom sleep

Hennie van der Sandt. Foto: Verskaf

Hennie Myburgh-Van der Sandt. Foto: Verskaf

Die hoërskoolseun wat Dinsdagmiddag in die Pretoriase Moot deur ʼn bakkie raakgery is, veg tans om sy lewe in die waakeenheid van die Netcare Montana-hospitaal.

Hennie Myburgh-Van der Sandt (18), ʼn leerder aan die Hoërskool Wonderboom, is ernstig beseer nadat hy Dinsdag op die hoek van 18de Laan en Meyerstraat op sy fiets in ʼn botsing betrokke was. Annelize, Hennie se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit was nie ʼn vragmotor wat in die botsing betrokke was soos paramedici aanvanklik beweer het nie, maar ʼn Tata-bakkie.

“My kind het verskriklik seergekry,” het sy gesê. “Die bakkie het reg voor hom ingery en ek neem aan die fiets het hom onder die bakkie ingeruk en hy is ʼn ent saamgesleep.” Volgens Annelize het Hennie erge drukking op sy brein en word tans in ʼn geïnduseerde koma gehou.

Twee van sy rugwerwels is gebreek, ʼn stuk staal van die ongeluk het in sy lewer in gesteek en een van sy longe is beseer. Hy moes veloorplantings op sy regterarm ondergaan waar die vel op die teerpad afgeskuur het en die senuwees in die arm moes weer geheg word. Sy gesig is erg gekneus en geswel en baie van sy tande is in die ongeluk gebreek.

“Die dokters se grootste kommer nou is die drukking op sy brein. Hy is stabiel, so die drukking word nie minder nie, maar ook nie meer nie. As dit enigsins meer word, sal hulle ʼn gedeelte van sy skedel moet verwyder om die drukking te verlig. Die eerste 72 uur ná die ongeluk is kritiek,” het Annelize gesê.

Volgens Annelize is Hennie ʼn kranige fietsryer wat elke dag ná skool van sy huis tot in Waverley ry om te gaan oefen. Hy het die Sondag voor die ongeluk 100 km in die Buffelsdrift Bergfietspark voltooi. “Hy ry altyd in die middae in die stil strate om die ergste verkeer te vermy. Hy het Dinsdag ʼn hartmonitor aangehad toe die ongeluk gebeur het en op die monitor kon ons sien hy het nie vinnig gery nie. Ooggetuies het vir ons gesê die bakkie het net skielik reg voor hom ingery,” het sy gesê.

Sy het gesê die bestuurder van ʼn insleepvoertuig was glo een van die eerstes wat op die toneel stilgehou het om Hennie te help. Die man het by hom gebly tot die paramedici hom hospitaal toe geneem het. “Ons weet nog steeds nie wie hierdie man is wat Hennie gehelp het nie, maar ons wil so graag vir hom dankie sê dat hy by ons kind gebly het.”

Volgens Annelize het hulle Donderdagoggend ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Estelle Potgieter ·

Bid vir ‘n wonderwerk Annelize, ons dien ‘n God van wonders! Wees sterk!!

Hannelie ·

Dis so hartseer. Ons bid dat hy gou gesond sal word. Sterkte aan sy ouers.

Cornelia Steyn ·

Here, ek bid dat U asb hierdie seun sal aanraak met U genesende hande en die dokters instrumente in U hande sal wees. Gee asb sy ouers krag en kalmte in die tyd en laat hulle op U alleen vertrou. U is ‘n God van Wonders. Amen.

Candice ·

Jis dis so hartseer, ons bid dat hy net sal beter word elke dag!

Gesiggie ·

Aan al die Maroela Media lesers, kom ons Bid vir hierdie seun, kom ons dra hom aan God op, God ons vra U…. raak die seun aan, genees hom, dra hom, bewaar hom, in Jesus naam… Annelize, wees sterk hou aan Bid, vra God vir n Miracle”’ so jammer dat dit met hom moes gebeur… alle strerkte, mag ons Ketting Gebed n Blessing wees…. Glo en vertrou als sal beter gaan.

Ilze ·

Ons dien beslis n God van wonders, ek kan getuig. Ons dra hom in ons gebede en weet Jesus sal genees. Sterkte aan die familie

Cilliers ·

My oudste kleinseun is op negentien dood toe ‘n voertuig hom getref het. Ek onthou my en my vrou se hartseer, daarom bid ek vir hierfdie seun en vir sy gesin, en ek vertrou hy sal herstel.

Estelle ·

Ons bid vir Hennie en sy familie. Mag ons Groot Geneesheer vir Hennie styf vashou en gesond maak.

E ·

Hennie, mag Jesus jou aanraak en genees sodat jy vir Hom ń getuie kan wees. Sterkte vir ma, pa en almal wat Hennie liefhet.

Annie ·

Baie sterkte aan die familie ons bid hulle en wens vir Hennie vinnige herstel toe – maar nerens in die artikel is daar gese of hulle die bestuurder gekry het of nie – of het hy soos al die ander padvarke weggejaag en hoop hy word nooit gekry nie. Indien dit so is wens ek hom alles toe wat sleg is. Sterkte Annelize en gesin.

Mike ·

Ja, ek ook, kan net dink, maar ons moet net keurblind wees en bekhou!

Johnny ·

Ons spreek GODDELIKKE Genesing oor die seun uit. Dankie JESUS vir genesing wat nou plaasvind, ons dra ook die ouers op aan GOD se Genadetroon vir troos en bystand. In JESUS se Magtige Naam. AMEN.

Joanie ·

Ai Annelize sal saam jul bid vir bonatuurlike genesing vir Hennie & dat dai padvark wat jou kind se lewe so in gevaar gestel sal kry wat hom toekom….die sleutel van sy tronk sel moet weg ge gooi word mense soos dai verdien nie om in die samelewing te wees nie….Sterkte

Joann ·

Grootman mag Jesus al die seer wegvat en jy sommer gou weer gesond sal wees.

J ·

Ons bid vir jou kind. Vir volkome genesing. Hoe kon die bestuurder nie agterkom hy tref iemand of iets nie en hom saam sleep. Ek voel dit onmiddelik en hoor dit as ek n stukkie van n gebarste band wat stukke op die pad lê van n ander voertuig tref.

Ina ·

Mag d Vader met Hennie wees en sy liggaam en gees weer heelmaak. Mag Hy ook vir Hennie se ouer(s) bonatuurlike krag gee om saam met hom deur d herstel te gaan. Baie baie sterkte.

Siestog ·

Baie baie baie sterkte en liefde aan hierdie gesin. Hennie, ek hoop jy is spoedig weer op jou fiets. mag jy volkome herstel en sommer weer vol streke wees soos wat die tieners is.

Hartseer ·

Ek het nie woorde nie, al wat ek kan sê is ek hoop hy word gesond! Asb weet dat ons aan julle dink en vir julle bid! Baie sterkte .

Mel ·

Is daar al enige Nuus oor die toestand van Hennie, ek bid steeds vir genesing vinnige herstel vir hom

Anoniem ·

hey. die man is metro insleep diens. hy was eerste op toneel daarna het life line amb dienste op gedaag en toe netcare life line het afgestaan teen netcare want na debateering wou ons die seun laat airlift maar asgevolg van die weer het geen chopper gevlieg nie so life line en netcare die seun gestabiliseer en netcare het vervoer die man is david fourie van metro assist

Luister ·

Dankie aan David Fourie. En baie sterkte aan Hennie, en sy familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.