“Moratorium” op plaasuitsettings “nie-afdwingbaar”

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se beroep vir ʼn “moratorium” op alle plaasuitsettings is ongewens, onprakties en nie afdwingbaar nie, het Agrisektor-eenheidsforum (Asuf) gesê.

Ramaphosa en ʼn afvaardiging van senior ministers het Saterdag met verteenwoordigers van landbou en plaaswerkers in Paarl in die Wes-Kaap vergader. Japie Grobler, voorsitter van Asuf, het die vergadering bygewoon en het gesê die fokus was op die uitsetting van werkers en landelike bewoners op plase. Volgens Grobler het Asuf nie, soos wat in die media berig is, Ramaphosa se beroep op landbou-organisasies om vrywilliglik ʼn moratorium in te stel, gesteun nie.

“Hoewel sy beroep dalk verwys het na die beëindiging van onwettige uitsettings, waarmee alle partye sal saamstem, sluit dit waarskynlik wettige uitsettings in. ʼn Beroep vir ‘n moratorium op die toepassing van die wet ingevolge waarvan wetlike uitsettings gereguleer word, blyk van ‘n landbou- en regsperspektief ongewens, onprakties en nie afdwingbaar te wees nie. Die vereiste toegewings val dus buite die mandaat van Asuf se lede,” het Grobler gesê.

Hy het beklemtoon dat uitsettings deur wetgewing beheer word en dat nakoming verpligtend is. “Oortredings, naamlik onwettige uitsettings, moet dienooreenkomstig hanteer word. Dit is in die verlede bewys dat tydige bemiddeling baie geskille kan oplos, onnodige uitsettings kan voorkom of aanvaarbare uitkomste kan fasiliteer vir diegene wat hul behuising op plase kan verloor.”

Grobler het gesê terwyl ʼn menslike benadering noodsaaklik is wanneer uitsettings gedoen word, daar ook volledige erkenning gegee moet word in dwingende omstandighede wat uitsettings noodsaak. “Asuf is egter bereid om deel te wees van gesprekke wat kan bydra tot ‘n wedersyds aanvaarbare uitkoms van hierdie diskoers en sal ons lede raadpleeg ten opsigte van die voorstelle wat gemaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jakoos ·

Uit wie bestaan ASUF? Ek sukkel om iets op die internet te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.