Moria-byeenkoms vanjaar wéér van die baan

Die ZCC se jaarlikse pelgrimstog na Moria in Limpopo is weens vrese oor die verspreiding van Covid-19 opgeskort. Duisende mense stroom jaarliks daarheen. (Foto: Twitter)

Lede van die Zion Christian Church (ZCC) se gebruiklike Paassaamtrek by Moria in Limpopo gaan vir die tweede agtereenvolgende jaar nie plaasvind nie.

Die kerk het aan Maroela Media gesê die byeenkoms gaan vanjaar weer nie plaasvind nie, as deel van voorsorgmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

“Ons is nog in gesprek met die regering, maar sover gaan niemand bymekaar kom nie. Die byeenkoms gaan nie voortgaan tydens die inperkingstyd nie,” het die kerk bevestig.

Die regering beraadslaag nog met verskillende geloofsgroepe oor of geloofsbyeenkomste die Paasnaweek kan voortgaan. Maroela Media het vroeër berig die regering gaan “binne dae” ʼn aankondiging doen oor ʼn beroep uit die geloofsgemeenskap dat sommige van die bestaande regulasies oor geloofsbyeenkomste verslap word.

Luidens berigte oorweeg die nasionale koronavirusbevelsraad dit glo om Suid-Afrika van vlak 1 na vlak 2 van inperking oor die komende Paastyd te skuif. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het ook gewaarsku dat burgers oor Paasnaweek die afsonderingsregulasies moet gehoorsaam om verdere verspreiding van die virus en ’n moontlike derde golf te verhoed.

Intussen beywer kerke en geloofsorganisasies hul daarvoor dat kerke tydens Paasfees oopbly.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum (SANCF) sê hy sal die hof nader om seker te maak bestaande regulasies oor geloofsbyeenkomste word verslap sodat geloofsbyeenkomste oor Paasnaweek kan voortgaan.

“Ons standpunt is steeds gegrond op die dubbel standaarde van die regering wanneer dit kom by die implementering van hul eie regulasies, dit bewys ’n gebrek aan konsekwentheid,” sê Bishop Mashashane, president van SANCF.

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het op 11 Maart namens verskillende senior godsdiensleiers ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa gerig en hom daaraan herinner dat April en Mei tradisioneel belangrike maande in die godsdienstige kalender van Christene (wat Paasfees vier) en Moslems (wat die Ramadaan vier) is. Die organisasie wil saam met die regering werk om ’n oplossing te vind sodat aan die regering se gesondheidsdoelwitte voldoen word, terwyl die geloofsgroepe steeds hul geloof kan uitoefen.

Ná bogenoemde brief is FOR SA op 17 Maart na ’n vergadering met die president en intergeloofsleiers genooi om die Covid-19-regulasies te bespreek – veral met die oog op die komende groot godsdienstige vakansiedae en die  winter wat naderkom.

Geen besluite is geneem nie, aangesien die insette van die godsdienstige leiers eers aan die nasionale koronavirusbevelsraad oorgedra en oorweeg moet word.

Ramaphosa het Maandag erken geloof speel ʼn belangrike rol in die lewe van miljoene Suid-Afrikaners en byeenkomste is ʼn belangrike manier om hul geloof uit te leef. Hy sê egter groot byeenkomste, insluitend geloofsbyeenkomste, het die moontlikheid om die virus te laat versprei, ongeag maatreëls oor die handhawing van sosiale afstande en ontsmetting.

Ramaphosa het dus ʼn beroep op gelowiges gedoen om innoverende maniere te vind om in hierdie tyd steeds hul geloof uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Hoe gaan die ANC die klomp stop wat wil moria toe gaan ek wil dit nog sien.

Lizelle ·

Die berig sê mos daar gaan nie ‘n byeenkoms by Moria wees nie

Hennie ·

Eindelik ‘n goeie besluit. Gaan baie lewens op die paaie spaar.

JohanR ·

Maar beter soe : The ZCC draws a staggering crowd for the annual Easter pilgrimage. Rough calculations estimate that between three and five million pilgrims visit Moria for the Easter pilgrimage. It’s difficult to tell the size of the entire congregation because there are ZCC congregations Zimbabwe, South Africa, Zambia, Mozambique, Botswana, Malawi, the United Kingdom, United States, Australia and other countries. However, South Africa has the largest number of members.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.