Mortimer soek net aandag, sê Oscar Pistorius se familie

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Die man wat beweer dat hy by ‘n kuierplek in ‘n onderonsie met Oscar Pistorius betrokke was soek net aandag, het Pistorius se familie in ‘n verklaring gesê.

“Mnr. [Jared] Mortimer, wat onbekend was aan Oscar en ons familie tot hy die media genader het met sy storie oor die sogenaamde ‘onderonsie’ waarin hy homself as die slagoffer beskou, is ‘n man wat onwaarhede versprei vir maksimum aandag en maksimum skade,” het Leo Pistorius, Oscar se oom, namens die familie in ‘n verklaring gesê.

Pistorius en Mortimer was glo Saterdagaand in ‘n onderonsie betrokke by die VIP Room-kuierplek in die Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg.
Pistorius se oom beweer dat Mortimer se weergawe van die gebeure onwaar is. “My ondersoeke dui daarop dat Mortimer die aggressor was en ooggetuies het dit bevestig.”

Pistorius se oom het ook ontken dat Pistorius president Jacob Zuma se familie beledig het. “Ons wil dit onomwonde stel dat daar absoluut geen waarheid steek in hierdie man se bewerings dat Oscar die president van Suid-Afrika beledig het of gespog het oor ons familie se sogenaamde invloed nie,” het hy gesê.

“Oscar was saam met een van president Zuma se seuns op skool en het baie van hom gehou. Oscar het ook groot bewondering vir president Zuma se buitengewone ondersteuning vir Paralimpiese atlete.”

Die familie het ook ontken dat Pistorius beweer het sy familie besit die weermag.

Die familie sê wel dat Oscar se besluit om in die publiek te verskyn terwyl die verhoor nog aan die gang is, nie wys was nie maar dat hulle gesien het hy ervaar ‘n “toenemende gevoel van eensaamheid en vervreemding”.

Klik hier om ander nuus oor Oscar Pistorius op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcel ·

Ai Ou Mortimer, ek het n foto van jou in n engelse koerant gesien, laat my baie dink aan daai windgat Christoff Becker, (wat boekdele spreek) siestog kry jy nie genoeg aandag nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.