Mos Def beveel om SA te verlaat

Yasiin Bey (voorheen bekend as Mos Def) Foto: IMDB

Yasiin Bey (voorheen bekend as Mos Def) Foto: IMDB

Die Amerikaanse hip hop-ster en akteur, Yassin Bey (voorheen bekend as Mos Def), is deur die landdroshof in Bellville aangesê om Suid-Afrika te verlaat nadat hy in hegtenis geneem is in verband met sy visumtermyn wat verstryk het.

Mayihlome Tshwete, woordvoerder van binnelandse sake, het bevestig dat die hof ʼn boete kan hef, maar die departement moet nou besluit hoe lank die 42-jarige kletsrymer, wie se regte naam Dante Terrell Smith is, verbied sal word om weer na Suid-Afrika terug te keer.

Bey is by Kaapstad Internasionale Lughawe in hegtenis geneem toe hy op 9 Januarie die land wou verlaat. Hy het byna twee jaar lank saam met sy vrou en kinders in Suid-Afrika gebly.

Die gesin het glo op besoekersvisums die land binnegekom, waarvolgens hulle 30 dae lank in die land kon bly. Hulle het gereeld die land verlaat en teruggekeer, maar het in ʼn stadium versuim om hierdie voorsorgmaatreël toe te pas.

“Die departement van binnelandse sake bevestig die inhegtenisneming van Dante Terrel Smith, ook bekend as Mos Def en/of Yasiin Bey – dat hy die immigrasiewette van die Republiek oortree het,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Hy het met ʼn toerisvisum in sy Amerikaanse paspoort die land binnegekom. Sy onbekende ‘wêreldpaspoort’ is deur immigrasiebeamptes op 9 Januarie 2016 by Kaapstad Internasionale Lughawe afgekeur en hy is in hegtenis geneem. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat mnr. Smith se vrou, ma en vier kinders ook onwettig in die land gebly het nadat hul visums ook verstryk het.”

Bey se vrou, sy ma en hul vier kinders moet binne 14 dae die land verlaat.

Bey het as Mos Def teenoor Bruce Willis gespeel in die fliek, 16 Blocks, en het onlangs in die TV-reeks Dexter, die rol vertolk van “Brother Sam”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mr P ·

Wat van al di onwettige terroriste en moordenaars wat reeds in SA rondle. Almal uit ons buurlande.

Jaco ·

wat van die 5 miljoen of meer onwettige immigrante uit die res van Afrika???

Jan maak n Plan ·

Dis duidelik hy het nie maatjies in die regte plekke nie.

Rooijan ·

He he he ja of hy het vergeet om die “retainer” aan te vul soos ooreengekom.

Elize ·

Onwettig of nie, die ou sou verseker n baie groter en positiewer bydrae gelewer tot die land as die duisende onwettiges wat oor ons grense loop. Dit is ook al manier hoe die regering onwettiges kan voorkeer, as die man homself op n skinkbord aanbied aan die immigrasie beamptes op die lughawe.

Henri ·

Zuma revenge oor hy dronk diplomaat moet terugroep uit Noorwee

Nico K ·

Hierdie is eintlik ‘n voorbeeld van belangrike mense wat dink hulle hoef nie wette te gehoorsaam nie. Enige persoon wat 2 jaar onwettig in SA bly sal in hegtenis geneem word. Hy kan nie verwag om anders behandel te word net omdat hy beroemd is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.