Mosambiek-naweek ontaard in tragedie toe SA man sterf

Wouter de Wet. Foto: Facebook

Wat ʼn naweek van ontspanning in Mosambiek vir ʼn groep vriende van Suid-Afrika moes wees, het in ʼn tragedie ontaard toe een van die mans gesterf het.

Wouter de Wet (44), ʼn sakeman van Pretoria, het die afgelope naweek ten aanskoue van sy vriende gesterf nadat hy deur sterk seestrome by die Bilene-meer in Mosambiek meegesleur is.

De Wet du Plessis, wat sedert hul kinderdae met Wouter bevriend was, het aan Maroela Media gesê ʼn groep van agt vriende het besluit om by die meer te gaan uitspan. Drie van die vriende het eiendom in die gebied en dit is ʼn plek wat die vriendekring na aan die hart lê.

Du Plessis vertel die Bilene-meer is ʼn soutwatermeer wat aan die see gekoppel is. Op sekere tye word die mond van die meer oopgemaak sodat water terug in die see spoel. Wanneer die mond oopgemaak word, veroorsaak dit dat ʼn waterstroom gevorm word. Mense sal dan in die meer inspring en saam met die waterstroom dryf tot by die mond waar hulle weer op die oewer sal uitklouter, het Du Plessis verduidelik.

“Saterdag was weer so ʼn geleentheid waar die mond oopgemaak is en Wouter wou in die water spring om saam met die stroom te dryf. Die stroom het vir ons ʼn bietjie sterker as gewoonlik gelyk en ʼn paar mense het eers gaan lewensreddersbaadjies haal. Wouter het egter besluit hy gaan solank vooruit en het ingespring,” het Du Plessis gesê.

Hy het gesê Wouter het soos altyd saam met die stroom gedryf en nog vir sy vriende gewaai wat hom van ʼn volgepakte strand af dopgehou het. “Toe hy by die plek kom waar hy moes uitklim, het ons gesien daar is ʼn probleem. Dit het gelyk asof daar sterk onderstrome was en Wouter is in die see in meegesleur.”

Du Plessis het gesê ʼn reddingsboot is dadelik gestuur om De Wet te gaan help, maar met hul aankoms by hom was dit reeds te laat. Sy liggaam is nie ver van die mond af uit die water gehaal nie.

“Wouter was ʼn fris en gesonde man wat lief was vir die buitelewe. Al wat ons kan dink, is dat die strome net te sterk was en hom net te diep die see ingesleur het,” het Du Plessis gesê. Daar word nog gewag op die uitslae van ʼn nadoodse ondersoek om die oorsaak van De Wet se dood te bevestig.

De Wet was ongetroud en is die pa van twee kinders wat in Windhoek, Namibië, woon.

“Hy was ʼn ongelooflik goeie mens. Dit was baie duidelik uit sy groot vriendekring hoe baie hy vir sy medemens omgegee het. Hy was absoluut daardie mens wat sy laaste kledingstuk vir sy medemens sou gee as hy hom kon help,” het Du Plessis gesê. “Hy sou altyd sy eie probleme opsy skuif om eers iemand anders te help. Dit is hoe ons hom altyd sal onthou.”

Du Plessis het gesê sodra die uitslae van die nadoodse ondersoek ontvang en die nodige proses afgehandel is, sal De Wet se liggaam na Suid-Afrika teruggebring word waar hy ter ruste gelê sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Dit is so onnodig en tragies. Die enigste raad wanneer jy in ‘n seestroom meegesleur word is die laaste ding wat jy moet doen is om uit te swem. Draai op jou rug en dryf. Al dryf jy honderde meters in die see in bly kalm. Die see sal jou weer uitspoel. Dit is wanneer jy paniekerig raak dat jy spook om uit te swem dat jy moeg word. Dit het met my en my niggie by Amanzimtoti gebeur. Ons het kalm gebly en is na ‘n lang ruk weer veilig op die strand uitgespoel.

Ek stem saam ·

Chris- 100% reg! Mense asb lees dit en onthou ingeval dit ooit met jou sou gebeur. Bly kalm, probeer net dryf, uitkom SAL jy!

Magda ·

So verskriklik jammer… baie sterkte aan sy kinders, familie en vriende . RIP

Anoniem ·

‘n Geleentheid gehad om hom een keer te ontmoet. Baie vriendelike man met ‘n goeie hart.

Ansophie ·

Neef jou lekker lag so uit die diepte van jou maag en jou mooi smile sal ons altyd bly by…. R.I.V.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.