Mosambiek-terreur: Streek se bestendigheid in weegskaal

Tydelike skuilings in Palma in Cabo Delgado, Mosambiek. Duisende mense is ontwortel en talle ander het gesterf in die vlaag aanvalle. (Foto: Grant Lee Neuenburg/WFP/AFP)

Die toename in geweld in die noorde van Mosambiek verlede maand het hernieude kommer laat ontstaan oor veiligheid in Suider-Afrika, ʼn streek wat die afgelope paar jaar betreklike bestendigheid agter die blad het.

Militante met bande met die Islamitiese Staat (IS) het die kusdorp Palma op 24 Maart aangeval en duisende inwoners gedwing om na die omliggende bosse te vlug. Dit het Total, die Franse energiereus, ook gedwing om sy nabygeleë multi-miljard rand se gasprojek op die lange baan te skuif.

Die behendig beplande aanval was ʼn keerpunt in ʼn insypeling wat die afgelope drie jaar chaos in die Cabo Delgado-provinsie veroorsaak het terwyl djihadiste ʼn kalifaat daar probeer vestig.

Die 16 lede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het die aanvalle as ʼn “belediging” vir die vrede en sekuriteit van Mosambiek, die streek en die internasionale gemeenskap bestempel.

Ses streeksleiers vergader vandag vir noodgesprekke in die Mosambiekse hoofstad Maputo oor die verslegtende situasie.

Ontleders waarsku die bestendigheid van die breër streek is op die spel en so ook die rimpeleffek op die LNG-aanleg aan die Afungi-skiereiland – die grootste enkele belegging in Afrika, gelei deur Total.

“Die hoop is dat Mosambiek sy deure vir praktiese hulp sal open as deel van ʼn geïntegreerde strategie,” sê Piers Pigou, ʼn ontleder by Crisis Group.

Hy sê die land het tot dusver net ad hoc-hulp op ʼn bilaterale grondslag van ander SAOG-lede gevra.

Om pres. Filipe Nyusi te oortuig om sogenaamde “soewereiniteitspolitiek” te staak en saam met die streek te werk om die insypelaars te stuit, gaan deurslaggewend wees, sê Pigou.

“Die vraag is of dit gestuit kan word voor dit verder versprei.”

Op SA se voorstoep

Hoewel die djihadiste in Mosambiek tot dusver redelik in bedwang gehou word, het hul besluit in 2018 om saam met die IS te werk, vrese laat ontstaan oor ʼn breër agenda en meer verfynde taktieke.

Adriano Nuvunga, ʼn burgerregteaktivis in Mosambiek, sê die gevolge van die eskalasie kan enorm wees.

“As Mosambiek ineenstort, kan dit deur allerhande groepe as deurgangspunt gebruik word en die streek raak,” waarsku hy.

Mosambiek strek al langs die Indiese Oseaan en deel grense met Malawi, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië, eSwatini (Swaziland) en Zimbabwe.

“Die grense met Mosambiek is groot en moeilik om te bestuur,” sê die onafhanklike Tanzaniese ontleder Kennedy Mmari. Hy sê die insypeling kan ekstremisme in daardie land “versnel”.

Mosambiekse djihadiste het reeds dele in die suide van Tanzanië geteiken. Dit sluit in ʼn dodelike aanval op die stad Mtwara in Oktober verlede jaar.

“Dit is op ons voorstoep,” sê Liesl Louw-Vaudran, ʼn navorser verbonde aan Suid-Afrika se Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

“Dit gaan ʼn groot kwessie word as daar ʼn groeiende insypeling in suidelike Afrika is – waar ons tot dusver nie veel gewelddadige ekstremisme ondervind nie,” sê sy.

Die mees kwesbare lande is dié langs Cabo Delgado, waaronder Malawi en Zimbabwe, sê Louw-Vaudran.

Sy sê ook die gevaar van territoriale uitbreiding is in hierdie stadium “redelik beperk” terwyl dit lyk of die djihadiste meer op Mosambiek konsentreer, eerder as om grense oor te steek.

Gas op die spel

Veiligheidsvrese word vererger deur die insypeling se nabyheid aan die LNG-projek wat – vóór die Palma-aanval – na verwagting in 2024 in bedryf gestel sou word.

Die “gasreserwes van wêreldgehalte” was veronderstel om Mosambiek in ʼn “energiereus” te omskep, in ʼn streek wat probeer om sy energievoorraad te verbeter en te diversifiseer, sê Nuvunga.

Ontleders vrees dat die oproer internasionale energiemaatskappye kan dwing om die LNG-projek heeltemal te laat vaar en toekomstige beleggings te heroorweeg.

“Die streek kon voordeel getrek het uit die gas, maar daai skip het nou geseil,” sê Louw-Vaudran met verwysing na geleenthede vir ander ondernemings wat uit die gasaanleg sou spruit.

Handelsroetes word ook bedreig.

Ontleders verwys onder meer na die roete wat Malawi, Zambië en Zimbabwe met Mosambiek se Beira-hawe verbind – asook met die Cahora Bassa-dam met sy hidroëlektriese kragopwekkers wat  in die noordweste van Mosambiek geleë is.

“Mense vrees dat indien die insypeling nie gepak word nie en momentum kry, kan dit hulpbronontwikkeling in die streek kaap,” sê Nuvunga.

Donderdag se beraad vind plaas terwyl die Mosambiekse owerhede volhou dat Palma nou weer ten volle in beheer van die regering is, ʼn bewering wat wyd deur ontleders en bronne op voetsoolvlak betwis word.

“Hulle is nie naastenby in beheer nie,” sê Pigou.

Hy sê daar sal nog gesien moet word of enige vordering op dié gebied gemaak gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Werner ·

Die militantes het al lankal in SA nesgeskop.Dis net nou n kwesie van wanneer begin hulle hier.Dink ou CR gaan net hoor of hy hulle nie kan omkoop om asb nie moeilikheid te maak nie.Nie een of al ses lande saam is instaat om hierdie klomp te keer nie.Ou CR is te besig om te keer dat sy geraamtes nie uit die kas val nie hy het nie nou tyd vir ander dinge nie.

Genis ·

Miletantes vat Moz oor, en die Mozies is lankal meer in SA, as in hulle eie land.. Die ANC ja CR gaan hulle seer sekerlik omkoop… Die ANC skuld hulle mos? Die hoekom Mandela daat tyd die grense oop gemaak het…. nou sit ons met die gebakte pere…

Jack ·

Is die eff en zuma nie iewers betrokke by die groep nie. Die traagheid van die sa regering is kommerwekkend en die land gaan n groot prys vir die laksheid betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.