Die Mosambiekse regering ondersoek maniere om samewerking in die energiebedryf met Suid-Afrika te verbeter.
Gwede Mantashe, minister van energie, het verlede maand met sy Mosambiekse eweknie, Max Tonela, in dié buurland vergader. Hulle het agter geslote deure ontmoet.
Die nuusagentskap Lusa berig die twee lande gaan nou maniere oorweeg om samewerking in die energiebedryf te verbeter in die hoop dat ʼn oplossing vir Suider-Afrika se enorme kragtekorte gevind kan word.
Pascoal Bacela, Mosambiek se nasionale direkteur van energie, het gesê met dié land se hulp kan Suid-Afrika moontlik sy kragtekorte oorkom.
“Mosambiek beoog om sy beskikbaarheid van energie te verhoog wanneer gekyk word na plaaslike markte en dié in Suider-Afrika,” het Bacela aan Lusa gesê.
Mantashe het verlede maand op Facebook na die ontmoeting verwys en gesê gesprekke word gevoer oor die samewerking tussen die regerings, asook oor maniere hoe die twee lande mekaar kan aanvul rakende kragkwessies.
“Mosambiek word toenemend ʼn strategiese vennoot vir Suid-Afrika om sy plaaslike gasverpligtinge na te kom,” het Mantashe gesê.
Mantashe het afgevaardigdes by Africa Oil Week in Kaapstad verlede jaar na Suid-Afrika se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) verwys. Die regering het dié hersiene plan onlangs goedgekeur en Mantashe het die gas-na-krag-projekte benadruk.
Hy het ook spesifiek verwys na groot gasontdekkings in Mosambiek en Tanzanië en opgemerk dat die regering “verbind bly tot die ontwikkeling daarvan”.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Hoe gaan die regering Mosambiek betaal vir die krag?
Kan dit waar wees?
Regtig? Mosambiek kan hulleself nie eers help nie. Blinde lei die blinde.
Wat ‘n skande! Ons moet nou hulp ontvang van voorheen onderontwikkelde lande!
Jy moet weet dit is klaar praat as die aremste land in die wereld vir jou hulp aanbied