Mosambieker wat wou stroop, tronk toe

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n 23-jarige onwettige immigrant van Mosambiek is Vrydag vir nege jaar tronk toe gestuur nadat hy in die Skukuza-streekhof sy betrokkenheid by stropery erken het.

Rich Ricardo Chauke is op 9 April 2021 vasgetrek toe hy en twee medepligtiges die Krugerwildtuin onwettig deur by Houtboschrand ingegaan het met die doel om renosters te stroop.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die veldwagters wat daardie dag aan diens was, voetspore by die teerpad by Houtboschrand opgemerk. Met die hulp van ’n spoorsnyhond het die veldwagters na die moontlike indringers begin soek en Chauke en sy makkers in ’n digte bos gewaar.

“Die veldwagters het Chauke aangekeer, terwyl sy twee trawante daarin geslaag het om te vlug. Hy is in besit gevind van ʼn .458‑kaliber‑geweer (sonder enige reeksnommer), ammunisie, drie rugsakke en ’n byl,” sê Mohlala.

Die polisie by Skukuza is van die voorval in kennis gestel en met hul aankoms is Chauke in hegtenis geneem. Hy is aangekla vir betreding, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, en besit van ’n gevaarlike wapen. Hy is ook aangekla van die oortreding van die Immigrasiewet nadat die polisie vasgestel het dat hy onwettig in Suid-Afrika is.

Hy het skuld op al die aanklagtes teen hom beken. Hy is gevolglik tot altesaam nege jaar effektiewe tronkstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die vonnis verwelkom en die samewerking tussen die veldwagters en polisie geloof.

“Ons hoop dat die vonnis as afskrikmiddel sal dien en dat mense die belangrikheid van die behoud en beskerming van die natuur, sowel as bedreigde spesies, sal begin begryp,” het Manamela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

So asof hy hom gaan steur dat hy onbevoeg verklaar word om wapen te besit! Hy was dan al klaar onwettig in besit van een en hy is ‘n Buitelander !!!

Di ·

Daar is nog BAIE van sy soort in die land! Als te danke aan die grensposte wat nie bewaak word nie, grensdrade wat verwoes is en nie herstel word nie en korrupte amptenare by grensposte. Blameer die onbevoegde ANC kaders wat goed in stand moet hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.