Mosambiekse spoegkobra pik kind in bed

Die Mosambiekse spoegkobra wat ’n kind Sondagaand in sy bed gepik het. (Foto: Verskaf)

“Help, help, help.”

Só het die pa van ʼn 10-jarige seun Sondagaand benoud buite Mercia Mackenzie, mede-eienaar van Life 24-ambulansdiens, se huis op Marble Hall, Limpopo, geroep nadat die kind deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik is.

Die seun is van daar na die Life MidMed-hospitaal op Middelburg, Mpumalanga, sowat 111 km verder, gehaas waar hy twee dae lank mediese behandeling ontvang het. Hy is intussen ontslaan en sterk tans by sy ouerhuis aan.

Die name van die seun en sy pa is aan Maroela Media bekend, maar word op versoek weerhou.

Mackenzie vertel dat sy om 21:45 ʼn getoet en ʼn geskree buite haar huis gehoor het. Die pa, wat net ʼn paar huise verder woon, het by haar om hulp gepleit nadat ʼn slang die seuntjie in sy bed gepik het.

Die bytplek op die kind se arm. (Foto: Verskaf)

Die slang het vermoedelik reeds tussen die seun se beddegoed gelê toe hy in sy bed geklim het.

Die pa kon nie aandui watter slang dit was nie, maar het gesê dat dit steeds in die kamer was.

“Ek het dadelik ʼn bytmerk op sy linkervoorarm gesien. Ek het die ambulans na my huis ontbied en ook dadelik vir Arthur Roden, ʼn plaaslike slangvanger, gebel. Albei was binne enkele minute op die toneel.

“In die ambulans het ons die kind dadelik op suurstof gesit en gekalmeer terwyl die pa saam met Roden na hul huis gegaan het om na die slang te soek. Hy het die slang gevang en as ʼn Mosambiekse spoegkobra geïdentifiseer.”

Op pad na die hospitaal het Mackenzie mediese personeel van die voorval in kennis gestel en die nodige inligting, sowel as ʼn foto van die bytplek en kind se mediesefondskaart, aangestuur.

Mackenzie sê dit is uiters belangrik dat ʼn slang so gou as moontlik geïdentifiseer word sodat bepaal kan word watter teengif en behandeling toegedien moet word.

“Ons bly baie ver van die hospitale af, maar ons werk nou saam met dokters en medici – veral by Life MidMed – wat ons ongelooflik goed met slangbyte bystaan.

“Ons skakel altyd met hulle sodra ons ʼn voorval het en hulle sorg dan dat die regte teengif beskikbaar is wanneer ons met pasiënte by die hospitaal aankom.”

Mackenzie sê die seun is Woensdag uit die hospitaal ontslaan.

Die slangkenner Arthur Roden. (Foto: Verskaf)

“Dit gaan baie goed met hom.”

Sy sê daar word minstens een tot twee ernstige slangbyte per week in Marble Hall en omliggende gebiede, waaronder Groblersdal, aangemeld.

Volgens Mackenzie is Mosambiekse spoegkobras, swartmambas, pofadders en stillettoslange vir die meeste van dié byte verantwoordelik.

Wenke vir slangbyte

Sy sê dit is uiters belangrik om dadelik mediese hulp vir enige slangbyt te soek.

“Indien moontlik, hou die bytplek hoog in die lug en moet dit nie self probeer behandel nie. Moenie die bytplek probeer oopsny, suig of vryf nie. Moet dit ook nie toeplak of ʼn verband omdraai nie.

“Probeer om die slang te identifiseer deur ʼn foto op ʼn veilige afstand te neem of die slang af te sonder tot ʼn kenner opdaag om die slang te vang.

Mercia en Richard Mackenzie, eienaars van Life 24-ambulansdienste op Marble Hall. (Foto: Verskaf)

“Trek ʼn kring met ʼn pen om die bytplek en neem ʼn foto langs iets soos ʼn mediesefondskaart sodat mediese personeel later kan meet hoeveel die swelling toegeneem het.”

Sy sê dit kan soms moeilik wees om bytplekke raak te sien, soos in die geval van swartmambas.

Dié slange se bytmerke is nie altyd sigbaar nie aangesien hulle baie dun tande het  – as medici egter weet met watter slang hulle te make het, kan die regte behandeling gegee word. Daar kan natuurlik ook meer as een bytplek wees.

Mackenzie waarsku voorts dat mense veral in die reënseisoen en in hoë temperature op die uitkyk vir slange moet wees. Sy sê dit is ook baie algemeen dat ʼn Mosambiekse spoegkobra in ʼn bed klim omdat hulle “ʼn bietjie ekstra hitte soek”.

“Dit gebeur baie hier by ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Konrad1226 ·

Kalm bly is belangrik. Skok doen baie skade Mosambiekse spoegkobrabyte is gewoonlik nie dodelik nie maar kan lelike nekrose veroorsaak. Simptomatiese behandeling en waarneming is belangrik. Spoedige herstel.

Twallie ·

Dis net ‘n dier, wat doen wat in sy aard is.

Om alle diere vankant te wil maak wat mense leed aan doen is baie kortsigtig.

Tertius ·

Uhm, die foto deur die kenner lyk soos n swart mamba nie n mosabiekse spoegkobra nie

Twallie ·

Dis net ‘n verskafte foto van die ou wat die slang gevang het, nie die actual slang nie.

Die foto van die kobra is bo by die opskrif.

Twallie ·

Slange pik nie, hulle byt. Wens mense wil ophou sê “pik”. Hy gebruik sy hele bek, met kake wat amper 180 grade kan oopmaak.

As die kind so gou ontslaan is, kan dit dalk wees dat dit ‘n droë byt was, wat beteken dat geen gif gebruik is nie. Gebeur baie meer as wat mense dink.

Sterkte bulletjie, hoop jy word gou gesond.

Dirk ·

Dit is ook nie krities om die slang te identifiseer nie, dit kan wel help, maar dokters behandel simptome. ‘n Slang kan ook maklik verkeerd identifiseer word indien dit nie deur ‘n kenner gedoen word nie. Om tyd te mors deur eers fotos ens te kry is nie so belangrik as om by die hospitaal te kom nie. Het al gebeur dat mense eers ‘n slang probeer identifiseer of fotos te neem en baie kosbare tyd te mors…

madels ·

Genade! Dit moet verskriklik wees om in jou bed te klim en gebyt te word deur na slang, veral n Kobra :-( sterkte

Pieter J ·

As ek in so ń omgewing woon sal ek kliphard probeer om my huis slangdig te kry en so te hou. Ek glo slange het ń baie nuttige funksie in die natuur maar ek wil darem nie saam met hom in die bed klim nie.

Mier14 ·

Dankie vir n artikel wat deeglike agtergrond en inligting gee. Dis hoe dit moet wees. Welgedaan aan Mercia en ander vir die vinnige optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.