Moses Mabhida-geweld: Drie wil skuldig pleit

‘n Skermskoot uit ‘n video van die chaos op die veld.

Drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die geweld wat uitgebreek het ná ʼn sokkerwedstryd op 21 April by die Moses Mabhida-stadion in Durban, het Donderdag in die hof verskyn.

Siphosenkosi Knowledge Memela (35), John Sibongiseni Khumalo (29) en Khwezilomso Madiba (35) het op aanklag van openbare geweld in die Durban-landdroshof verskyn. Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê al drie beskuldigdes het aan die hof aangedui dat hulle van voorneme is om skuld te beken op die aanklag teen hulle.

Memela, Khumalo en Madiba is al drie op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en moet op 25 Mei weer in die hof verskyn. As deel van hul borgtogvoorwaardes mag die drie mans glad nie weer sportgeleenthede bywoon nie.

Maroela Media het vroeër berig die geweld waarby die drie beskuldigdes glo betrokke was, het ontstaan die oomblik toe die eindfluitjie blaas by ʼn Nedbank Cup-halfeindstryd tussen Kaiser Chiefs en Free State Stars. Die Chiefs het die wedstryd met 2-0 verloor.

Honderde ondersteuners het op die veld gestorm en spelers en veiligheidswagte moes vir hul eie veiligheid vlug. Terwyl die wedstrydkameras steeds die gebeure vasgevang het, het toeskouers stadionstoele aan die brand begin steek, skareversperrings en toegangshekke beskadig, kameratoerusting vernietig en ʼn veiligheidswag aangerand. Altesaam 18 mense is in die voorval beseer.

Zandile Gumede, burgemeester van eThekwini, het later gesê die skade aan die stadion beloop na raming R2,6 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annie ·

Hoe gaan julle hulle stop om nie weer sportgeleenthede by te woon nie – hulle kan ander mense intimideer om dit te doen. Hulle moes agter tralies gebly het.

marous ·

Die hof buig vooroor net omdat hulle gaan skuldig pleit? Openbare geweld grens aan sedisie maar dit is so afgewater dat selfs die polisie deesdae deelneem . Mag nie sportgeleenthede bywoon nie …… dis lagwekkend

Ilse ·

Hoe gaan hulle dit regkry en wie gaan betaal vir die skade wat gedoen is? Dis belaglik hulle moet net nie meer vir hulle die stadion gee vir hulle sokker nie. Gee hulle groot oop stuk veld waar daar niks is om te plunder.

AG asb tog ·

Kom ek wed jou hulle gaan OM VERSKONING mag vra en dan word hulle VERGeWE . geen eise of tronkstraf nie .. eintlik ‘n Rooi Tshirt en ‘n beret!

Helizna ·

Laat die skuldiges die skade moet betaal. Dalk gemeenskapswerk tot skuld terugbetaal is. Dit moet vir alle skade geld soos by proteste ook. Straf hulle beursies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.