Moshje kry ʼn huis ná plaasmoord

Moshje by sy nuwe huis.

Lizanne en Vic Peyper het twee jaar gelede vir Arine Prins en Peet van Es by ʼn musiekfees waar die Peypers se seun opgetree het, ontmoet – min wetend dat hul paaie ooit weer sou kruis.

Maroela Media het vroeër berig Peet, sy vrou, Arine, en ʼn vriend is op die plaas Moseley naby Barberton deur vyf gewapende mans oorval. Peet is gemartel en vermoor. Arine is ook gemartel en die aanvallers het haar ook probeer verkrag.

Arine en hul kinders verhuis nou terug na Nederland en kan nie hul bulterriër, Moshje, saamvat nie. Die Dierebeskermingsvereniging het die hond ingeneem en vir hom ʼn huis begin soek. Vriende van Lizanne en Vic het vir hulle van Moshje vertel en hulle kon hom eenvoudig nie uit hul gedagtes kry nie.

“Ons het aansoek gedoen en is toe gekeur. Ons het eers ons eie bulterriërteef DBV toe geneem en gekyk of die twee oor die weg gaan kom, en dit het baie goed afgeloop. Hy was Dinsdag nou al ʼn week by ons,” het Lizanne gesê.

Moshje speel te lekker met sy nuwe maat.

“Die eerste aand was hy beangs. Hy het letterlik sy rug krom getrek en in die hoek gestaan en bewe, maar die Here gee vir ons gesag oor alle dinge. Ek het my hande op hom gelê en vir hom gebid; die volgende oggend het dit ʼn bietjie beter gegaan,” verduidelik Lizanne.

“Ek het veearts toe gegaan en gevra of dit normaal is. Hy het vir my ʼn kalmeerpilletjie vir Moshje gegee en gisteraand was dit nou die eerste keer dat ek dit nie vir hom gegee het nie. Jy sal hom nie ken nie, hy hardloop nou rond en blaf weer.”

Lizanne gaan van Saterdag af vir Moshje en hul eie bulterriër saam vir opleiding vat.

Lizanne het kontak gemaak met Arine op Facebook en Arine is baie tevrede dat Moshje by hul huis beland het. “Ek dink net altyd wat as dit my hond was. Ons het aanvanklik ná die afsterwe van ons vorige reun gesê ons wil nie weer ʼn hond hê nie, maar ons kon nie dié hond uit ons gedagtes kry nie,” het Lizanne gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Helene ·

Ek is baie bly dat alles ten goede vir Moshje uitgewerk het. Dankie vir julle goeie hart!

Tryna ·

Wow julle is absoluut fantasties! ?xx Moshje jou skippie het ingekom.

Basjan ·

Wat ‘n pragtige verhaal! Lizanne en Vic, julle verdien inderdaad ‘n medalje soos Alida hierbo genoem het. Ek is seker Moshje gaan vir julle baie vreugde verskaf.

w ·

Wat n pragtige storie. Moshje gaan soveel liefde ontvang. Dankie Jesus vir sulke fantastiese mense met liefdevolle harte vir n gebroke dier. Hy gaan soveel liefde ontvang en uitstort. ?

Kaye ·

Just more proof that there is no co incidence in life and there is a Greater Plan for our lives here on earth.
Dankie Lizaan en Vic vir julle groot harte. Geniet vir Moshje. Hulle het natuurlik ñ karakter van ñ eie soort nè.

SARIE VAN HEERDEN ·

Enige ongeluk by ‘n huis/familie besorg aan mense bekommernis. Ekself het buite my huis ‘n kennisgewing aangebring om mense in te lig oor my diere indien enigiets hier sou gebeur sodat hul weet hier is ander wat of versorg of verwyder moet word ten tye van enige ongerymdhede. My hondjie, Leksie, en Valie die kat is altyd binne wanneer ek weg is, en buite is Johanna my ou groot skipad wat baie mak is en sommer sal pad vat as hekke oopgelaat word. Ek weet nie hoe anders ek hul kan beskerm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.