Mosie gebring oor sluiting van Oos-Londen-dieretuin

Diereregte-aktiviste tydens ‘n betoging vroeër vandeesmaand om die dieretuin te laat sluit. (Foto: Ban Animal Trading SA/Facebook)

Annette Rademeyer, DA-raadslid in die Buffalostad-munisipaliteit, sê die raad gaan moontlik Woensdag stem oor die sluiting van Oos-Londen se beleërde dieretuin.

Die dieretuin gaan al jare lank gebuk onder bewerings van verwaarlosing en selfs dieremishandeling. Van die klagtes sluit in hokke wat te klein is, vuil water, nagdiere wat gedwing word om bedags uit te kom, tropdiere wat alleen aangehou word en diere se mediese probleme wat glo geïgnoreer word.

ʼn Bobbejaan genaamd William is vroeër van kant gemaak nadat hy ʼn wond opgedoen het en daar maaiers in gekom het, terwyl ʼn beer genaamd Jenny verlede jaar van kant gemaak is nadat haar agterbene verlam geraak het.

“Nog niks het verander nie. Daar is môre (Woensdag) ʼn raadsvergadering waar ons hopelik terugvoer gaan kry,” het Rademeyer gesê.

Sy het verskeie vrae, sowel as ʼn mosie ingedien waarin die DA vra dat die dieretuin gesluit word. Die mosie word na verwagting môre aangehoor.

“Daar word nie na die diere omgesien nie, daar is geen omgewingsverryking nie en mense wat daar werk kan nie basiese probleme uitwys nie. Die raad het nie die geld óf die kennis vir die dieretuin nie. Diere sit in tronke. Hoekom het jy hulle dan?” het Rademeyer gesê.

Khoi-San-aktiviste het pas 11 dae in ʼn hok deurgebring om die aandag te vestig op die diere se lot. Hulle het die hok op Menseregtedag verlaat. Inwoners en diereregte-aktiviste het dieselfde dag by die dieretuin betoog. Hulle het ʼn memorandum aan amptenare van die munisipaliteit oorhandig waarin hulle vra dat die dieretuin eerder in ʼn gedenktuin omskep moet word. Aktiviste eis ingrypende verandering by die dieretuin om die beweerde lyding van diere daar te verlig.

Diereregte-aktiviste voer aan die dieretuin het geen nut vir bewaring nie.

Rademeyer het gesê een van die DA se ander groot besware is dat die dieretuin boonop teen ʼn verlies bedryf word. Sy sê hoewel paadjies en grasdakke vir menslike besoekers onder meer opgeknap is, is niks vir die diere gedoen nie. “Die plek is bouvallig,” het sy gesê.

Die party het ook gesê die gemeenskap se woede oor toestande by die dieretuin kan nie langer bloot geïgnoreer word nie. Die DA eis al sedert 2013 oplossings by die munisipaliteit, tot dusver met geen sinvolle terugvoer nie.

ʼn Aanlyn-petisie wat die sluiting van die dieretuin eis, is reeds deur meer as 150 000 mense onderteken.

Die Buffalostad-munisipaliteit het gesê hy verwelkom die insette van alle instellings wat die dieretuin en diere se welstand wil bevorder. Woordvoerder Samkele Ngwenya het gesê die stad het die afgelope twee jaar ʼn operasionele plan vir die dieretuin in werking gestel om aan nasionale standaarde te voldoen.

“Ons werk nou saam met die departement van omgewingsake en alle ander organisasies wie se mandaat dit is om ons verantwoordbaar te hou. Goeie vordering word gemaak en ons het nou spesifieke omgewingsuitkomste ingestel.”

Hy het gesê die stad het spesifieke bewaringsprojekte geloods en opvoedingsprogramme verbeter. Na aanleiding van dié planne is daar onder meer besluit om ʼn aasvoël, wat nié in die kusstreek aard nie, te hervestig. Verskeie ander opgraderingsprojekte is ook onderweg.

Ngwenya het gesê die dieretuin is ʼn weerspieëling van die stad se groenstrook- en verfraaiingsvisie en is ʼn groot trekpleister vir skole in die provinsie. “Ons doen ʼn beroep op die publiek om die dieretuin te besoek en dit eerstehands te ervaar, sodat hulle beter ingelig kan wees.”

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het by navraag gesê hy is tans in ʼn hofgeding met die dieretuin gewikkel oor die bobbejaan William, wat volgens die NDBV veeartsbehandeling geweier is en gevolglik erg gely het.

“Die NDBV is gekant teen die teel, aanhou en handel in wilde diere. Die NDBV se standpunt is dat wilde diere in die wildernis hoort. Suid-Afrika het van die beste wildreservate ter wêreld en daar kan van dié parke gebruik gemaak word vir opvoedingsdoeleindes. ʼn Dieretuin kan net ʼn kunsmatige omgewing skep, wat die spesies se natuurlike gedrag inhibeer en geen opvoedkundige doel dien nie,” het Nicole Venter van die NDBV gesê.

Sy sê wilde diere word in onnatuurlike omstandighede aangehou en van hulle vryhede ontneem, wat beteken daar is bitter min opvoedkundige waarde daarin. “Die verbeterings wat ons sal wil sien is ʼn algehele wegbeweeg van dieretuine en dat wildreservate eerder aangemoedig moet word.”

Die NDBV doen gereeld roetine-inspeksies by die dieretuin en reik dan waarskuwings vir oortredings uit. “Die NDBV het al verskeie kere sy kommer uitgespreek oor die welstand van die diere. Ons versoeke vir ingryping by die dieretuin is óf minimaal aan voldoen, of summier geїgnoreer. Die NDBV het hom gevolglik aan die Oos-Londen-dieretuin se etiekkomitee onttrek,” het Venter gesê.

Sy het gesê ten spyte hiervan sal die NDBV voortgaan met sy ondersoeke en stappe doen waar nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mariana ·

As diere al vir jare in sulke omstandighede moet lewe hoekom word daar nou eers iets aan gedoen. Dit is ‘n skande dat mense so lank al bewus is maar nog nooit iets daaraan gedoen het nie. Die mense in beheer behoort aangekla te word van dieremishandeling en ja die dieretuin moet besluit word, as ons als in ag neem sal ‘n reservaat die beste uitweg wees.

Tanya ·

En so word alles verniet dit is omdat daar nie geld is nie ons ry duur karre huis noem dit maar alles sal onder grond gaan

Zolla ·

Pretoria dieretuin in net so slegte kondisie! Geen ordentlike versorging van diere en hul hokke meer nie!! Word dit nie meer gereguleer of inspeksies gedoen nie????

Arak ·

Vergeet die dieretuin, gaan kyk net hoe lyk die hospitale. Ons mede landsburgers is glad nie opgewasse om die mees basiese van stelsels suksesvol te bestuur nie… Nou wie het gedink dit is wys om vir hulle ‘n hele land te gee om te bestuur?

Stripes ·

Maak die dieretuine toe en gebruik die grond vir plakkerskampe en wen stemme.

Jepetto ·

Dis a JA stem van my sliut die dieretuin en maak dan a park waar mense met hulle honde gaan stap

E.K. die eerste ·

Dink ook vir die diere se onthalwe is dit beter as dit sluit. Ai tog Arak…om dit nou te vergelyk met ouetehuise -dink voor jy skryf. Wil jy dan m.a.w. sê dit gaan so sleg dat ouetehuise moet sluit?? Wat doen JY om ouetehuise te help? Koop jy kaartjies vir gelukstrekkings, of ondersteun jy hul basaars of ander fondsinsamelingsprojekte? Natuurlik faal die in beheer sulke plekke maar disi ook elkeen van ons se plig en VOORREG om te help waar ons kan. En moenie sê ooo ons sukkel ook. EK ook en duisende ander maar daar is van ons wta in plaas van kerm en kla en vingerwys ons kelin deeltjie bydra om te help.

E.K. die eerste ·

…RE my vorige post ek het bedoel hospitale en ander plekke wat hulp nodig het, nie ouetehuise nie

Isabel van Tonder ·

Sluit die dieretuin asb!! Sluit Bfn dieretuin ook asb!!! Verban alle sirkusse en dieretuine regoor die wèreld!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.