Mosie teen Mangaung se omstrede burgemeester slaag

Olly Mlamleli. Foto: Mangaung-metro/Facebook

Olly Mlamleli, omstrede ANC-burgemeester van die Mangaung-metro, moet haar pos ontruim nadat die VF Plus se mosie van wantroue teen haar op Vrydag se raadsvergadering deur die meerderheid van die raadslede ondersteun is.

Ná ʼn geheime stemming was daar 31 stemme ten gunste van die mosie, 28 daarteen en agt bedorwe stemme.

Adriaan de Bruyn, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro, het gesê ʼn groepering van ANC-raadslede het egter nadat die stemming plaasgevind en die uitslag bekend geword het, die vergadering verlaat sodat ʼn kworum nie gehaal is tydens die amptelike aankondiging van die uitslag nie. “Dit verander egter nie die uitslag nie, aangesien daar wel ʼn kworum teenwoordig was tydens die stemming.”

Die partye het die feit dat die meerderheid van die raadslede oor partypolitieke grense heen en volgens hul gewete gestem het, verwelkom. “Ons beskou dit as ʼn oorwinning vir die inwoners van die metro.”

Dienslewering en goeie munisipale bestuur het die afgelope jare drasties in die Mangaung-metro verswak, het De Bruyn gesê en bygevoeg dit het veral begin plaasvind sedert Mlamleli in 2016 tot uitvoerende burgemeester verkies is.

“Die mees onlangse afgradering van die metro se kredietwaardigheid deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s dui op die geweldige krisis waarin die munisipaliteit hom bevind.

“Inwoners word verder geteister deur ʼn enorme aantal slaggate, straat- en verkeersligte wat nie werk nie, afwesigheid van padtekens en straatname, diensleweringsprobleme wat weke neem om opgelos te word, ʼn munisipale inbelsentrum wat vir alle praktiese doeleindes buite werking is, riool én skoon water wat vrylik in strate afloop, asook probleme rakende munisipale rekeninge. Bykomend hiertoe oorskry die metro se laste sy bates en kom hy ook nie sy finansiële verpligtinge na nie.”

Hardie Viviers, DA-koukusleier in die metroraad, het die verwydering van Mlamleli ook as ʼn oorwinning bestempel. “Mlamleli is uiteindelik aanspreeklik gehou vir haar mislukkings.

“Opposisiepartye het bewys dat hulle bereid is om saam te staan ter wille van die stad, selfs al het ons verskille.”

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het gesê die verwydering van Mlamleli is die eerste skoot wat afgevuur word in ʼn interne ANC-faksie-oorlog in die Vrystaat. Dit kan selfs nasionaal oorspoel weens Ace Magashule se posisie as sekretaris-generaal van die ANC. “Dit kan ook die katalisator wees wat die politieke landskap in die Vrystaat verander.”

In Maart verlede jaar is Pieter Louis-Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Magashule’s Web of Capture gepubliseer. Hierdie absoluut verdoemende boek ondersoek Magashule se geskiedenis van beweerde korrupsie en sy posisie as hoof van ʼn goed georganiseerde staatskapingnetwerk. Uit die boek self het Magashule die bynaam “Mr 10 Percent” gekry. Die bynaam verwys na die 10% van alle regeringskontrakte in die Vrystaat wat Magashule glo vereis het om te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Dis absoluut goeie nuus vir Bloemfontein en omgewing. Die ANC pes is verwyder

koos10 ·

Ons het dit ook gesê toe J Zuma uit is, en is nou nog slegter daaraan toe. Die ANC is nie instaat om te regeer nie en voel vere vir enige landsburger. Waarmee hulle egter baie goed mee is is selfverryking.

JohanR ·

26 jaar en alles opgeneuk van munisipaliteite, tot provinsies tot ‘n hele land. Kan enigeiemand dink aan enige ANC sukses stories?

Janine ·

Niks. Nil. Nie een POSITIEWE storie nie. Niks opgebou. Net verwoes en verniel.

Deon ·

Ja ek kan dink aan n anc sukses storie/tyd, die tyd toe hulle nie aan bewind was nie en ons tyd op die grens

Kokerboom ·

ABSOLUUT ZERO. Onthou hul het 26 jaar in tronke beplan om land te verwoes en STEEDS stem die massas vir hul!!! Ek het GEEN simpatie met diesulkes!!!

Sarel ·

Ons treur oor die eens pragtige stad Bloemfontein.
Selfs Naval Hill is nie meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.