Mosie teen Ramaphosa na kantlyn geskop

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die mosie van wantroue wat die ATM teen pres. Cyril Ramaphosa in die parlement ingedien het, het Donderdag ingeplof nadat die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aangekondig het dat daar nie vandag daaroor gestem sal word nie.

Die speaker het die saak na die parlement se programkomitee verwys wat sal moet besluit wat volgende daarmee gebeur.

Die ATM het hom vroeër tot die hof gewend vir ʼn hersiening van die speaker se besluit dat die stemmery oor die mosie teen Ramaphosa nie in die geheim mag plaasvind nie. Die hof het egter bevind die kwessie is nie dringend nie en het die saak van die dringende rol geskrap.

Die ATM het daarna gesê hy gaan weier om aan die debat deel te neem nadat sy versoek dat die mosie uitgestel word, van die hand gewys is.

Vuyo Zungula, ATM-president, het tydens die debat voet by stuk gehou dat die saak sub judice is en nie aangehoor kan word alvorens die hof daaroor beslis het nie. Mapisa-Nqakula het van hierdie siening verskil.

Floyd Shivambu van die EFF het tydens die debat ook gevra vir ʼn geheime stemming sodat Ramaphosa uit die kussings gelig kan word. Volgens hom kan die ANC skeur as LP’s toegelaat word om hul stem tydens die mosie geheim te hou.

“Sodra daar ʼn geheime stemming is, gaan ons die ANC laat skeur. Ons het dit vantevore gedoen,” het Shivambu gesê.

Nadat partye hul insette kon lewer, het Mapisa-Nqakula besluit om die kwessie na die programkomitee te verwys. Die komitee vergader Donderdag.

  • Die debat oor die DA se mosie van wantroue teen die kabinet duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henri ·

“In die land van die blindes is eenoog koning” lui die gesegde. Maar hoe is dit in SA van toepassing? Die hele spul van die cANCer en sEFFilis is só blind en domastrant dat geen gidshond dit naby hulle eers wil waag nie. Ons het April-gekkedag bykans 364 dae van die jaar hier.

Samuel ·

Ons parlement/nasionale vergadering is werklik ‘n sirkus. Die President word deur die Speaker beskerm.

Nie Verbaas ·

Want die president het haar beskerm terwyl haar totale onbevoegdheid uitgewys is. Mens het nie n mosie van wantroue nodig om te sien hoe nikswerd hulle almal eintlik is nie.

Hector ·

Antwoord (van Vlaandere af !) op vraag ‘Wat is ATM?’: African Transformation Movement – twee (2) setels in Parlement. Vlaamse groet

Christine ·

Ons weet waarvoor die afkorting staan, dankie, maar hierdie klein partye verteenwoordig bitter min mense en doen niks. Mens weet nie eens waarvoor hulle staan nie. Hopeloos te veel klein partye.

Christine ·

Ek voorspel algehele sabotasie en terrorisme in ons land wat tot burgeroorlog gaan lei wanneer die ANC uit die stoele gelig word. Hulle gaan NIE ‘n nederlaag aanvaar nie. Ons sien dit reeds in Pretoria en Johannesburg vandat die ANC november die twee stede afgestaan het aan koalisie partye – sabotasie van water en krag is aan die orde van die dag DAAGLIKS. Kan julle dink wat beplan hulle?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.